Tuisblad  Wie is ons?   Argief  Soek Artikels   Beknopte Index  Registreer  
Teken Aan   FAQ   Soek   Forum   Hulpstaaf   Foto's  

Artikels

Bly Jesus in ‘n wêreld oorkant die maan?
Right Said Reverend, 2009-10-22

Ek het Jesus leer ken as die Seun van God wat sonder ‘n ruimtetuig deur galaksies geklief het tot binne-in die skoot van ‘n dogtertjie wat nie ‘n keuse gehad met watter man sy wou trou nie. Die dogtertjie het haar buite-egtelike Seun gebaar en hom grootgemaak vir die dood. Na sy dood het die Seun wonderbaarlik teruggegryp na die lewe, ‘n laaste paar wyshede kwytgeraak, op ‘n wolk geklim en met ‘n jurk wat flap in die wind sy reis terug deur die galaksies begin na ‘n plek wat mense slegs na hulle dood kan sien.

Dis egter net die gestroopte raamwerk van sy lewensverhaal. Meer nog, dis die raamwerk van die verhaal soos ek vandag sinies daaroor dink. Die mense wat my aan Jesus voorgestel het, het ‘n ryker verhaal aan my voorgehou. Hulle verhaal is een wat oor ongeveer 2000 jaar aan hulle oorgedra is, maar hulle het dit vertel asof hulle self daar was.

Volgens my opvoeders het die konsepsie van Jesus plaasgevind in die enigste aseksuele daad voor die koms van wetenskap. God se Wind het in daardie oomblik in klein Maria ingegaan en die saad geplant van die Een wat die wêreld se verbeelding vir ‘n ewigheid sou aangryp.

Vanaf daardie aseksuele konsepsie was Jesus volgens oorlewering gepredisponeer om ‘n wrede dood aan ‘n stuk hout tegemoet te gaan. Ter wille van die mensdom, het my opvoeders verduidelik. Ter wille van die versoening tussen God en mens. Want die mens is oorerflik en inherent sleg. Sondig. Verlore. Jesus se dood moes hiervoor vergoed. En alhoewel God self hierdie besluit geneem het, is die skuld vir Jesus se dood vierkant voor die mens gelê. Selfs ons wat twee milleniums verder lewe, is aandadig aan die sondelose man se dood. Dis omdat ons so sondig is, het die ingewydes verduidelik.

Maar, het hulle bygesê, die oomblik toe Jesus sterf, toe sterf ons sonde saam met hom. Al ons weerbarstigheid is daardie dag saam met hom sy graf in. Jesus het egter op ‘n meesterlike wyse die dood en die sonde gefnuik deur op te staan uit die dood. Sy opstanding het dit vir sy volgelinge ook moontlik gemaak om uit hulle sterwensbestaan op te staan en nuut te lewe.

Na sy opstanding het Jesus op ‘n wolk teruggegaan hemel toe om vir sy nuutgemaaktes ‘n plekkie by God te gaan voorberei. Daarom kan sy volgelinge leef met die hoop dat daar ‘n beter plek anderkant hierdie lewe is. ‘n Plek waar daar geen trane meer sal wees nie en waar ons lank en gelukkig saam met God sal bestaan. En eendag wanneer die tyd reg is, sal Jesus weer terugkom op ‘n wolk om al sy getroue kinders te kom haal. Daarom moet julle baie lief wees vir Jesus, het elke ouer, dominee, onderwyser en kategeet by herhaling verduidelik.

En ek was. Soos elke ander Christen het ek hierdie verhaal kritiekloos aangegryp en gekoester as my eie. Ek was bitter lief vir Jesus. Vir hom het ek uitgesien na Sondae. Vir hom het ek liedjies uit my hart gesing. Vir hom het ek my ouers en hulle vriende vermaak met my kennis van die Bybel. Vir hom het ek CSV-kampe toe gegaan en tot by die vlak van indoktrinasie liedjies rondom kampvure gesing. En vir Jesus het ek voltyds gaan werk sodat ek my hele lewe aan hom kon toewy. Tot in my 33ste jaar op aarde was ek verskriklik lief vir Jesus.

Ek het nie opgehou om lief te wees vir hom nie. Maar ek het begin opmerk dat mense wat lief is vir Jesus nie baie lief is vir hulleself nie. Hulle, die nuutgemaaktes, glo nog steeds dat hulle sondig en verlore is. En van hulle wonder gedurig nerveus of hulle regtig voldoen aan die vereistes om die ewigheid te betree. Ek wonder of dit vanuit hierdie liefdeloosheid vir hulleself is, dat baie Christene glad nie lief is vir ander mense nie. O ja, hulle predik liefde. Hulle loop met ‘n spesiale glimlag en ‘n glinstering in die oog rond. Hulle sê gedurig “Halleluja” en “Amen” en “Die Here is goed.” Maar hulle het ‘n onvermoë om die liefde wat hulle predik gestalte te gee.

Selfs in hulle liefdevolste dade is daar ‘n hovaardigheid wat ten hemele skrei. Gaan kyk bv. maar net waar hierdie nuutgemaaktes van Christus kos uitdeel. Daar is selde kos sommer net uit liefde uit. Dis meestal eers die Woord, dan die brood. Hoor net gou eers hoe sondig en verlore julle is, dan gee ons vir julle kos. Iets so eenvoudig soos brood breek word ‘n boodskap van verlorenheid. En niemand kan iets aan jou saligheid doen voordat jy nie die Reisiger van die galaksies as Persoonlike Verlosser bely nie. Goed, kom ons aanvaar vir ‘n oomblik dat ek nou oorkrities is. Mens kan darem nie mense se beste bedoelinge op die manier afmaak nie? Dan is daar talle ander voorbeelde waaraan ek kan dink. Soos die dronkie wat een Sondag in die kerk ingestap het en so gestink het dat die Heilige Gees nie eers kans gesien het om langs hom te sit nie. ‘n Hele groep mense het saam met die Gees op ander plekke gaan sit.

Wat van die bedelaar wat gedink het die kerk behoort seker die regte plek te wees om ‘n stukkie kos en bietjie geld te vra? Dit was toe nie. Almal het strak voor hulle gekyk met die uitloop en die arme ou totaal geïgnoreer. Die koster en die gemeentebestuurder het hom later met ‘n stok gaan slaan om hom weg te kry, want die risiko is net te groot.

Oor die gay mense hoef mens nie eers uit te brei nie. Kyk, ‘n Christen haat mos nie gay’s nie, hulle haat net hulle lewenswyse. Dit is seker nie liefdeloos nie om iemand anders se diepste menswees te haat?

Ek het geen behoefte meer aan die Jesus van die nuutgemaaktes nie. Die sondelose eersteling van die maagd Maria, het vir my geen aantrekkingskrag meer nie. Hoe kan die dood van iemand lofwaardig wees as hy kort daarna weer opstaan en terugkeer na ‘n knus en veilige bestaan, terwyl sy volgelinge die allerverskriklikste skuldgevoelens en swaarkry moet deurstaan? Hoe kan sy opstanding lofwaardig wees as sy volgelinge so hard probeer om almal wat anders is te begrawe?

Nee wat, gee vir my die menslike Jesus. Die een wat gebore is omdat Josef van Nasaret nie langer kon wag vir sy beloofde bruid nie. Die een wat gelewe het met dieselfde begeertes en struikelblokke as ek. Die een wat ‘n radikale boodskap van liefde en omgee verkondig het en daarvoor moes sterf. Gee vir my die Jesus wat soos saad in die grond geval het en die liefde in mense se harte laat ontkiem het omdat hy ‘n heldedood gesterf het ter wille van die liefde. Ek het ‘n behoefte aan ‘n Jesus met ‘n grafsteen, nie een wat my gaan straf omdat ek nie van wetenskapfiksie hou nie.

<< Terug
 
Die dag toe God weggeraak het....
Nuwe fossiel laat kreasioniste met eier in die gesig
Eugene Terreblanche vermoor
Bybelse potholes
Ek word bang
NG Kerk se moderatuur sê Kletskerk is 'n verleentheid
NG Kerk wil saambly weer bekyk
Is wetenskaplike studie sonde?
Ateïstiese dominee glo in 'n "God wat nie bestaan"
KLETSKERK VIR BEGINNERS


Skryf in op ons nuusbrief.
Name:
Email:
Laai AF
Kletskerk

Bemark jou Blad ook
klasifiseerd
Kontak
South Africa's Top Sites


Powered by phpBB © 2000, 2002, 2005, 2007 phpBB Group
Style edited by Lee for phpBB3