Dr Gerhard Lindique, redakteur van Die Hervormer, se uitspraak oor monogame saamblyverhoudings in Rapport (15 November ‘09), is insiggewend.
Ek wil graag na aanleiding hiervan vir die kommissie binne die NG Kerk – wat volgens inligting huidig oor saamwoon nadink – vra om regtig ‘n grondige en spoedige studie hieroor te doen, omdat die tradisionele hantering van die Skrif hierrondom asook baie persone se afkeurende ingesteldheid van alle saamwoon-verhoudings, doodgewoon nie meer bevredig nie en tot allerlei skuldlaste lei. Dis tog oorbekend dat ons ál meer gekonfronteer word met paartjies wat voor die wetlike huwelik saamwoon, dikwels met die eerlike bedoeling om later wetlik te trou.
Saamwoon het natuurlik ook betrekking op ouer persone wat nie kan bekostig om hul pensioenbydrae (van ‘n vorige lewensmaat) te verloor deur te trou nie.
Vanuit Genesis 2, maar ook ander Skrifgedeeltes, is die huwelik die mees ideale ruimte vir die uitleef van ‘n mens se seksualiteit, maar volgens my (en ook ander se) verstaan, nie die enigste nie. Sou ‘n mens egter om “goeie redes” besluit om jou seksualiteit buite die struktuur van die huwelik uit te leef, geld belangrike evangeliese waardes soos permanensie, getrouheid, ware liefde, lojaliteit, sekuriteit en ondersteuning, om enkeles te noem, steeds.
Sulke persone (indien gelowig) moet ook so ‘n keuse in eerbied voor God uitmaak. En hulle moet besef dat daar ‘n geweldige stuk verantwoordelikheid saam met hierdie “vryheid” gaan, onder andere dat die kwaliteit van so ‘n liefdesverhouding van deurslaggewende belang vir so ‘n besluit is. In hierdie opsig weet ons tog ook dat ‘n struktuur nie vir ons die volhoubaarheid van kwaliteit waarborg nie!
Verhoudings is ook dinamies. Dit is nie altyd maklik/moontlik om dit vanuit ‘n beginpunt sodanig te bestuur dat dit net mooi in alle opsigte ryp is op ‘n spesifieke troudag wat albei partye pas nie.
Was seks volgens Gods skepping nie voor die huwelik nie? Is die huwelik nie ‘n uitvloeisel van die seksuele aangetrokkenheid tussen mense om só struktuur daaraan te probeer gee en ‘n veilige hawe daarvoor te skep nie? Ook later vir die kinders? Verafgod ons nie die struktuur van die huwelik nie? Is die huwelik regtig ‘n Goddelike instelling, of kan dit bloot net ‘n “goddelike” of dan heilige en gesonde karakter hê, afhangend van hoe ‘n mens dit inrig? Kan sommige van hierdie verbintenisse nie kerklik geseën word nie - dan kan sulke mense ‘n kerklike belofte maak om lewenslank getrou aan mekaar te wees?
My gevoel is dat daar nie klinkklare gronde is om te sê dat seksualiteit nét binne die huwelik uitgeleef kan word nie – daar ís uitsonderings. Jongmense veral, weet dit, en vertrou die “kerk” daarom dikwels nie hiermee, asook met sommige ander uitsprake oor seksualiteit en seks nie. Hier dink ek veral aan homoseksualiteit en homoseksuele verhoudings.
Ek voel dat ons as kerk eerlik moet wees. Ons moet met integriteit en geloofwaardigheid hieroor praat en leiding gee. Op hierdie wyse gaan ons baie verder met veral jongmense in ons gesprekke rondom seksualiteit kom.
Ons moet hulle eerder begelei tot groter emosionele en geloofsvolwassenheid sodat hulle met bepaalde teologies-etiese riglyne waarmee ons hulle help, verantwoordelike besluite kan neem – wat seksualiteit in sy totaliteit eerbiedig!
(Chris Jones is die hoof van die Universiteit Stellenbosch se kantoor vir Moraliteit en Morele leierskap)