Chris Louw is nie verlede week dood nie. Hy is 25 jaar gelede in die oorlog van die AK 47’s reeds dood. Saam met baie ander Boetmans. Sy dood was net uitgestel. Verlede Maandag was dit dieselfde wapens, dieselfde vyand. Hierdie keer was hulle net te veel vir sy kop.
Die aankondiging dat hy werklik dood is, is psigies ontstellend. Hy was ons Boetmans se simbool. Hy was die wyse een wat kon sê wat met ons aan die gebeur was. Dit is hy wat ons bewus gemaak het van ons penarie. Van die Ooms wat ons grens toe gestuur het. Wat self nie oorlog gemaak het nie, maar batige boedels in die landbou en staatsdiens opgebou het. Wat toe die oorlog klaar is, ‘n nuwe Suid-Afrika onderhandel het waarin dit die Boetmans was wat die wraak van regstellende aksie moes ervaar.
Dit was Louw se natuurlike gawe om dinge te sê wat ons almal se koppe oopgemaak het. Noem hom maar die Baby Boomers se profeet.
Onlangs toe ons almal op die praise en worship-wa gespring het vir Jonathan Jansen, het hy ons gewaarsku. Toe die selfvoldane Malema in Bloemfontein aankondig Jansen is een van ons, het ek geweet, Chris was reg. Wat hom as superverligte so gewild gemaak het, was sy blatante eerlikheid en sy verbondenheid aan Afrikaans as taal. Dit het hom geestelike kringe baie status gegee. Ten spyte daarvan dat hy as liberaal nie geskroom het om die volk se leiers van voor af storm te loop nie. Mettertyd het almal hom as soort van buikspreker beskou. Verligtes, religieuses, taalliefhebbers en selfs die wat ‘n renons in die nuwe Suid-Afrika het.
Louw het bevryding binne-in die NG Kerk te weeg gebring. Hy het, sonder dat hy dit besef het, tot ‘n groot groep jong dominees gespreek. In die vroeë tagtigs was die oorgrote jong predikante gemuil in die ou nasionalistiese strukture. Hulle is afgerig om die totale aanslag te besweer. Hulle moes die sisteem waarin mense tot minderwaardigheid geinstitionaliseer is, uit die Bybel fundeer. As joernalis was hy briljant in die dekonstruksie van ‘n skynbaar onbreekbare ideologie. Hy het dikwels gesê dat Afrikanerpolitiek vasgevang is in morele bankrotskap.
Terwyl hy die sinistere aktiwiteite en motiewe van die ou bedeling oopgekrap het, het daar verligting vir ‘n klomp predikante gekom. Nie net vir die wat reeds tot verligtheid bekeer was nie. Ook vir die wat gekondisioneer was dat hulle nie hulle self mag dink nie. Die reeds bekeerde boetmanpredikante, het natuurlik sy sarkastiese en satiriese aanslag geniet.
Louw se integriteit is joernalis en profeet het bo verdenking uitgestyg toe hy sy teleurstelling in die onderhandelde Suid-Afrika begin uitspreek het. Dit wat in die plek van apartheid moes kom, het nie gerealiseer nie. ‘n Nuwe ongeregtigheid, wat in baie opsigte net so vernielsugtig soos apartheid is, het in Suid-Afrika uitgebroei. Van vreedsame naasbestaan in ‘n vrye Suid-Afrika het dadels gekom.
Opvallend is dit weer die verligte dominees wat by Louw aanklank gevind het. Die ongeregtigheid teenoor mense, wat in die profetiese boeke van die Bybel so prominent is, het weer immanent geword. Hy het groeiend onrustig geskryf oor die nuwe ongeregtighede. Dit wat aan mense gedoen word, is nie reg nie. Die een waarby as persoon betrokke was, was disrespek vir lewe. Burgers van die land moes meer en meer energie insit net om veilig te leef.
Het Chris Louw ‘n donkerte sien aankom waaruit ons nie gaan kom nie? Dit is nie verniet dat hy in sy laaste rubriek sy twyfel uitgespreek het oor die kwaliteit van die Kodesa-onderhandelinge nie. En vir RoelfMeyer uitgedaag het om te sê of hy die regeerkwaliteite van die ANC kondoneer nie. Sy uitdaging het met ‘n ondertoon van verwyt saamgegaan. En dink hy wou sê dat die Nuwe Suid-Afrika is goed en wel. Dit bly ook sy keuse. Maar dit is by die onderhandelinge waar dinge verkeerd geloop het. Waar die Ooms ons in die steek gelaat het. Die boetmangenerasie gaan dit nie maak. Eerder vroeër dood dan later. Bring maar die AK.