Afrika is die kontinent waar die Christendom op die oomblik die vinnigste ter die wêreld groei. Ingeligtes waarsku egter dat die herlewing van die Christendom op die “donker kontinent” ingewikkelder is as wat dit op die oog af mag lyk.
Die teologie in Afrika waaroor baie Christene so opgewonde raak is dikwels kilometers breed maar slegs millimeters diep.
Volgens Patrick Johnson en Jason Mandryk se Operation World verslae bestaan Uganda se bevolking uit 88 persent Christene en die van Kenia uit 78 persent Christene. Volgens die sending annaliste van die Vrye Metodiste Kerk van Noord-Amerika groei hulle kerke in Afrika die vinnigste ter wêreld.
Die grootse Anglikaanse provinsie in die wêreld, Nigerië, is ook in Afrika.
Die stygende getal Christene in Afrika en die impak wat die Christelike geloof werklik op Afrika en sy mense het, word ondersoekend bekyk deur die joernalis Michael Carl in ’n onlangse artikel wat op WorldNetDaily verskyn.
In die artikel onder die opskrif: Faith under fire met die subtitel: Africa's 'Christian' population on rise but will tribal rituals be overcome by the Gospel? het Carl met verskeie mense in Afrika onderhoude gevoer. Hy kom tot die gevolgtrekking dat daar ernstige vrae is wat gevra moet word.
Een van die vrae is watter verskil maak die groeiende Christelike geloof aan ’n kontinent wat besaai is met barbaarse oorloë, verkragtings, korrupsie en despotiese leiers waarvan baie hulleself Christene noem?
Hy wou onder andere weet of daar enige bewyse is dat Christelike bekerings ’n verskil in Afrika maak.
Sendelinge in Afrika gee toe die probleme is nie uniek aan Afrika nie maar vra nietemin waar is die sout van die aarde en die lig wat skyn in donker Afrika dan as die Christendom so groei?
In demografiese terme was Rwanda die mees Christelike land op planeet aarde maar watter verskil het dit gemaak tydens die menseslagting wat die land in die negentigs getref het? vra een van Michael Carl se onderhoudvoerders.
Filmmaker Douglas Busby wat verskeie dokumentêre films oor die Christendom in Afrika gemaak het, glo die kerk het ’n ongelooflike teenwoordigeheid op die vasteland. Hy sê daar is miljoene ware Christene in Afrika maar meen die kerk is besig om die kar voor die perde te span. Hy glo opvoeding behoort die perd te wees wat die mense tot die waarheid sal lei.
Hy wys daarop dat negentig persent van Afrika se mense steeds in heksery en toordery glo en sê Afrika sal nie gou gewone Christelike praktyke aanneem nie. Talle Christene in Afrika gaan op Sondae kerk toe maar vind dit nie vreemd om Maandag die toordokter te gaan sien nie.
Baie kerke buit ook die ongekende groei van die Christendom in Afrika vir hulle eie finansiële gewin uit. In sommige dorpe is daar skaars ’n winkel wat nie een of ander Jesus-konnotasie het nie met name wat wissel van Jesus is Koning Meubileerders tot Halleluja Burgers.