Die grootste sosiale euwel van Suid-Afrika is misdaad, veral dwelmmisdaad. Die toename in dwelmmisdaad het die afgelope dekade letterlik vervierdubbel. Die vraag is, hoe kan hierdie euwel suksesvol hokgeslaan word?
Op 11 November 2009 was daar in London ‘n insiggewende artikel in die The Independent nuusblad oor die bestuur van die dwelm pandemie in verskillende lande.
Volgens die outeur van die artikel, Johann Hari, is die oplossing van ‘n land se dwelmprobleem, die gratis beskikbaarstelling van dwelms. Hari meld dat regerings wat gekonfronteer word met dwelm-euwels oor die volgende drie realiteite moet besin, alvorens hulle sy kontroversiële voorstel summier afskiet.
Die eerste realiteit is dat daar in die proses van onwettiging en verbanning van dwelms en dwelmhandel, daar in ‘n land ‘n hoogs winsgewende bedryf tot stand kom. Die winsmarges in enige onwettige handel is altyd fenomenaal hoog en uit die aard van die saak is dit dan ook die primêre aansporing vir misdaadsindikate om aktief daarby betrokke te raak.
Om iets soos alkohol of dwelms te onwettig, is met ander woorde geen klinkklare bewys dat hierdie sosiale euwel in die niet in gaan verdwyn nie. Destyds toe die Amerikaanse regering in die 1920’s alkohol in Amerika verban het, het die gebruik van alkohol nie verdwyn nie, maar eerder toegeneem. Inteendeel, Mafia-bendes soos Al Capone en kie het blitsvinnig tot die onwettige handel van drank toegetree en het gefloreer op die swart mark. Amerikaners was destyds bereid om tot 3000% meer vir alkohol te betaal. Volgens Hari het die Nobel-prys wenner vir ekonomie, Milton Friedman, in 1986 bereken dat daar, as gevolg van die 1820’s Amerikaanse wetgewing, 10 000 moorde per jaar was wat direk toeskryfbaar was onwettige drankhandel. So kortliks, verbanning of onwettiging van byvoorbeeld dwelms is vir enige misdadiger musiek in sy ore. Dit sê in praktyk aan misdaadsindikate dat daar ‘n sluimerende winsgewende bedryf is wat smeek om ontgin te word.
Die tweede realiteit is dat die onwettigingsproses inderwaarheid ook ‘n reklame proses is vir dit wat die regering verbode verklaar het. Voordat die Amerikaanse regering alkohol in die 1920’s verban het, het die gemiddelde Amerikaners hoofsaaklik wyn en bier gedrink. Na die verbanning het die gebruik van sterk drank soos brandewyn, whiskey en rum met meer as 150% gestyg. Die skrywer Richard Cowan noem dit die ysterwette van verbanning. Hy sê wanneer iets gekriminaliseer word, is daar ‘n natuurlike groei in die behoefte na daardie item wat verban oftewel gekriminaliseer is. Dit is asof mens ‘n instinktiewe en avontuurlustige behoefte het na enige iets wat verbode is.
Die navorsers, Matthew Robinson en Renee Scherlen, het in die VSA in ‘n onlangse navorsingstudie bevind dat die toename in sterftes as gevolg van verbode dwelms in Amerika in 2000 met meer as 15 000 gestyg het teenoor wat die geval was met dwelms wat nie verbode verklaar is nie.
Die derde realiteit is dat die verbanning van dwelms nie die enigste roete is wat regerings hoef te volg om die dwelm-euwel hok te slaan nie. In Switserland is daar die afgelope 10 jaar lank al wetgewing wat die besit en die dryf in handel van dwelms verbied, maar die Switserse regering het buiten hierdie wetgewing ook klinieke daargestel waar dwelmverslaafdes 24 uur per dag onder mediese toesig gratis toegang tot dwelms kan kry. Volgens die gesaghebbende mediese joernaal, The Lancet, was daar die afgelope dekade ‘n 82% afname in nuwe aangetekende gevalle van heroin verslawing in Switserland. Huisbrake het, volgens hierdie mediese joernaal, met 60% afgeneem en so was dit skynbaar ook die geval met ander dwelmverwante misdade.
Op 1 Julie 2001 het Portugal besluit om die besit van dwelms soos heroin en kokaïen te dekriminaliseer. Jy mag met ander woorde nou vrylik dwelms in Portugal besit. Glenn Greenwald van The Cato Institute het in ‘n onlangse studie bevind dat dwelmverslawing in Portugal onder 13-jariges en jonger met meer as 4% gedaal het en vir 16-jariges en jonger was die afname meer as 6%. Daar was verder ook ‘n 147% toename in vrywillige rapportering van dwelmverslaafdes vir behandeling en rehabilitasie. Die Portugese regering oorweeg nou wetgewing om die dryf in handel van dwelms te wettig om sodoende die rug van onwettige dwelmhandel sindikate finaal te breek. Volgens Hari behoort hierdie stap inderdaad die winsgewendheid van onwettige dwelmhandel ‘n nekslag in Portugal toe te dien.
Tussen 1972 en 1978 het 11 Amerikaanse state die besit van dagga gewettig oftewel gedekriminaliseer. Volgens die VSA se Nasionale Research Council was daar geen toename in die persentasie daggarokers in daardie betrokke Amerikaanse State nie.
Die essensie van Johann Hari se artikel in The Independent, is dat regerings met hulle onverskrokke houding jeens dwelms, in wese ‘n nuwe teël-aarde skep vir die verdere gebruik van dwelms.
Volgens die pas ontslaande Prof. David Nutt (hy was tot en met November 2009 die hoof van die Britse regering se Adviesraad oor dwelms), spandeer baie lande miljarde rande om dwelms te beveg, in plaas van te bestuur. Volgens hom is die grootste werwers van nuwe potensiële dwelmverslaafdes, mense wat reeds dwelmverslaafdes is. Hulle doen dit om sodoende te kwalifiseer vir gratis of goedkoop dwelms vanaf die dwelmsmouse en –sindikate.
Jou kind se skoolvriende wat reeds ’n dwelmverslaafde is, hou met ander woorde die grootste risiko in om jou kind vir hierdie sosiale euwel te werf. In Suid-Afrika is die toename in roof, huisbrake, motor skakings en dies meer, direk toeskryfbaar aan die groei in dwelmmisbruik.
Die vraag is, moet ons nie herbesin oor hierdie sensitiewe saak nie. Sal dit nie wonderlik wees as ons, soos die geval in Switserland, oor 10 jaar kan getuig dat daar ‘n 82% afname in nuwe gevalle van dwelmverslawing is en ‘n 60% afname in huisbrake?
Die artikel is geskryf deur dr Jan van der Merwe, na aanleiding van ‘n artikel wat hy op in die The Independent in Londen gelees het.