Seks.
Dit gee nie om hoe jy dit sê nie, maar dié woord roep altyd ‘n spesifieke betekenis en ervaring op by die hoorder en leser. Seks is die emosionele ekwivalent van ‘n tien-pond hammer.Jy kan die hammer nuttig gebruik waarvoor dit bedoel is of jy kan groot skade berokken as jy onoordeelkundig te werk gaan. Seks is ook nie eksklusief die voorreg van net sommige uitverkorenes nie , maar is die geboortereg van elke volwasse mens wat seksueel aktief kan of wil wees.
Seks is ‘n natuurlike behoefte en gevolg van ‘n paartjie wat aangetrokke voel tot mekaar en dan seksueel verkeer as ‘n uitvloeisel van ‘n wederkerige gevoel van liefde, samesyn en wellus.Soms ook net een of twee hiervan. Seks behoort die toppunt te wees op die rangorde van gepaardgaande emosionele voordele in ‘n toevertroude verhouding tussen ‘n volwasse man en vrou . Ek sê, “behoort” vir ‘n spesifieke rede.
Ja, daar is wel verskeie variante van seksuele omgang, maar gesien in die konteks van hierdie skrywe beperk ek my tot heteroseksuele seks , bloot omdat die meeste mense( en dus ook lesers) hetero-seks beoefen.
Dat liefde , samesyn en wellus wel deel kan wees van ‘n homoseksuele verhouding is gewis, maar oor hierdie saak is ek ‘n leek en bely ek my onkunde.
SA se seks-revolusie
In Suid-Afrika is daar tans verskeie revolusies in die kleine aan die gang en word gevestigde praktyke openlik bevraagteken ( veral deur jongmense) en soms verwerp as uitgedien en wat nie deel behoort te wees van ‘n post-moderne samelewing nie. So-ook op die terrein van liefde en die omskrywing en praktyke verbonde aan liefhê, seks, saambly ens. Om in ‘n verhouding te wees is vandag beslis nie meer dieselfde as wat dit 40 jaar gelede was toe ek nog op skool was nie. Destyds was dit bitter skaars dat ‘n “gekysde” meisie en seun aktief seks sou beoefen en was daar verskeie redes hoekom verreweg die meeste paartjies ( ten minste in my vriendekring) dit nooit sou waag om voorhuwelikse seks te hê nie.
Eerstens was die samelewing en dus ook die gemeenskappe in die voorstad waar ek groot geword het baie meer konserwatief as vandag, maar tweedens het die vernaamste kulturele instellings , die skool en die kerk ‘n enorme rol gespeel in wat mog en wat mog nie.
Dat sommige jonges wel “oor die streep getrap het”, lui daar geen twyfel nie , maar hulle was ‘n klein minderheid terwyl die res kuisheid beoefen het.Soos elke jong seun het jy maar tydens pouses gehoor van so-en-so se eskapades maar geweet dat dit hoofsaaklik net grootpratery was.
Die kerk se kwynende invloed
Me. Gretha Wiid van Worthy Women Conference (WWC) faam het onlangs ( Die Burger,10/12) haar sterk uitgespreek teenoor seks voor die huwelik te midde van debatte oor die moontlikheid dat die NG Kerk sy beleid oor saambly en seks slegs binne die huwelik gaan hersien.
“Ek gee nie om wat die pous, die NG Kerk of enigiemand anders sê nie. Ek en my man, Francois, glo die huwelik is kosbaar en seks voor die huwelik kan net skadelik wees”, het sy gesê.
Oraait , ons weet duidelik nou waar hulle staan, maar kom ons kyk na ‘n paar feite.
Feit 1
Dit is alombekend dat in Suid-Afrika en veral onder afrikaanssprekendes die egskeidingssyfers hemelhoog is en dit ten spyte van ‘n sogenaamde verknogtheid aan “ morele standaarde” en wye kerk lidmaatskap. Dog was saambly in die breë gesien meer van ‘n uitsondering as ‘n reël.Ek glo ons almal ken iemand wat ten spyte van onthouding voor die huwelik vandag geskei is.
Feit 2
Die kerk (alle kerkgenootskappe ingesluit) se invloed op jong mense word al minder. Daar is verskeie redes hiervoor maar die vernaamste is dat vandag se jongmense gewoon nie die “oumense” vertrou met hul lewensbesluite nie.Daardie vertroue in die opinies en vertoë van ouer mense het in die slag gebly deur ons ongelukkige verlede en voel baie jongmense vandag dat dit juis dominees , hul ouers en hul tydgenote se gebrekkige besluitneming was wat gelei het tot vandag se verbrokkelende samelewing.
Bemagtigde jonges
Jongmense word vandag al vroeg in hul lewens bemagtig om self besluite te neem oor verhoudings, werk,geldsake en dies meer, en is minder afhanklik van hul ouers vir hul lewensbesluite.
Die argument dat voorhuwelikse seks sonder uitsondering( aldus me.Wiid) tot “drastiese verval” lei is egter te betwyfel. Ek gee toe dat losbandigheid en onoordeelkundige seksuele praktyke ‘n tikkende tydbom is maar nie alle paartjies wat saambly is permissief of onverantwoordelik nie. Baie( meeste?) van ons jongmense is vandag wêreldwys en glad nie naief oor die voor-en nadele van saambly nie. Hul verwysingsraamwerk is gewoon dat hulle ‘n onderlinge verpligting deel om mekaar by te staan hetsy fisies, emosioneel en finansieel en dat dit op die keper beskou kan lei tot ‘n langtermyn verhouding en beswil die huwelik.
Of jy nou saambly of nie is dit ‘n voorvereiste in enige liefdevolle verhouding dat daar wedersydse respek, nugtere denke, gee-en-neem en ‘n titseltjie wellus tuusen die partye moet wees. Maar, soos ‘n ou vriend van my altyd sê: There are no guarantees in life”
Ek stem.