Tuisblad  Wie is ons?   Argief  Soek Artikels   Beknopte Index  Registreer  
Teken Aan   FAQ   Soek   Forum   Hulpstaaf   Foto's  

Artikels

Ek skop nou jou ouma om!
Barend Nel, 2010-02-14

Die ou Kerkvader Augustinus het in sy “Belydenisse” vertel hoe hy hom skaam oor die gruwelike goed wat hulle in hul jeug aangevang het. Ek het ook al oorweeg om so ’n belydenis oor my jeugsondes te skryf, maar ek is bevrees dit sal verbied word, want ons was té gruwelik! En van die tydverdrywe was om pouses twee “laaities” sover te kry om te baklei, want dan het almal mos gratis vermaak...

Onthou ons het nie TV gehad waar ons kon rofstoei kyk nie! Die ding is só gedoen:

As twee stry gekry het, is hulle oorkant mekaar staangemaak en uitgedaag om die ander een se ouma om te skop.

Nou as iemand jou ouma omskop, is jy mos vanselfsprekend verplig om haar te verdedig! Maar ouma is nie uit die ouetehuis gaan haal nie, nee, julle oumas was twee sandhopies wat deur die gevegknopers, dit is nou die sogenaamde maats, voor die twee potensiële vegters staangemaak is. Jou ouma is voor die ander ou staangemaak en sy ouma voor jou. En as die twee nie tot 'n punt kon kom nie, het iemand "per ongeluk" aan een gestamp, sodat hy die ander een se ouma omgetrap het... en dan "moes" die ander een hom slaan...

Ek het nou die dag weer aan hierdie bakleiery oor ’n “ouma” gedink toe ek praat met ’n outjie wat nuut hier op Kletskerk afgekom het waar oor geloof en ongeloof gepraat word.

Hy wou graag oor sy geloof getuig en was bly dat daar ook ongelowige mense deelneem, want dit was tog ’n wonderlike kans om met hulle te gesels. Máár hy was vreeslik ontsteld oor die “ateïste” soms met God spot en hy het nie geweet hoe om dit te hanteer nie. Hy kon ook nie verstaan hoekom hulle met God spot as hulle dan nie in Hom glo nie.

Ek het hom probeer antwoord en agterna het hy gesê dat dit hom gehelp het. Ek deel my antwoord met julle, want ek dink dit kan dalk ook help met ons Christene se stryery onder mekaar.

Die ateïste wat sulke "vieslike" goed van God sê, het my ook aanvanklik baie ontstel en soos jy kon ek ook nie verstaan hoe hulle iets waarin hulle nie glo nie, kan verag. Ek moet sê sommige van die uitdrukkings en goed wat gesê word los natuurlik nou nog 'n sleg smaak in my mond, want baie van die goed is ook goed wat my naby aan die hart lê.

Ek het egter al een ding mooi leer verstaan en dit is dat hulle nie met GOD spot, as hulle sulke goed van Hom sê nie, want jy is reg, hulle glo nie daar is so 'n wese nie. Hulle is eintlik besig om met óns (Christene) te spot! Hulle spot met die idee of beeld wat ons van God het! As hulle dus spot met God wat slaap of in 'n koma is, spot hulle eintlik met die idee dat daar êrens 'n persoon met baie menslike eienskappe en emosies (woede, moedeloosheid, hartseer, ens.) buite hierdie heelal sit, wat heeldag wakker is en orals in die heelal (o.a. reg rondom die aarde) alles sien wat gebeur... en gereed staan om in te gryp as dit nodig is.

Dít is dié“prentjie”, wat hulle van “God” gevorm het op grond van die manier wat óns praat, wat vir hulle belaglik is. Uit die aard van die saak is die spot dus soms net op sommige groepe gelowiges en hulle besonderse idees oor God gerig en glimlag die ander christene dus maar so agter die hand saam. Soms is dit op ons almal gerig. Maar hoe dit ook al sy, jy hoef nie oor God se eer besorg te wees nie! In die ou tyd, soos tydens Israel se vroeë geskiedenis was dit anders.

Toe het amper almal geglo dat daar nie net 'n God is nie, maar dat daar trouens 'n klomp gode is. As húlle toe met 'n betrokke God gespot het, het hulle werklik bedoel om met daardie God te spot, want hulle het geglo daar is so 'n wese... hy was net nie so sterk soos die God in wie hulle geglo het nie. Maar wees getroos, die ateïste wat ek hier ken klink maar net of hulle met God spot. Hulle spot maar net met jou en my idees van God.

Dit is nogal 'n bevrydende ontdekking. Eerstens beteken dit dat ek nie meer so oor God se eer bevrees hoef te wees as hulle so praat nie. As ék slim genoeg is om agter te kom dat die ouens met my spot en nie met God nie, sal God (hoe ek of jy dan ook al aan "Hom" dink) darem seker ook nie so kleinlik of dom wees dat "Hy" dit nie kan besef nie. Tweedens, omdat dit eintlik net my eer is wat op die spel is, kan ek sonder wroeging besluit of ek dit wil probeer verdedig of verduidelik en of ek dit gaan ignoreer. As jy die dag lus is vir baklei kan jy hulle aanvat, maar as jy die dag nie lus is nie, lag jy dit af.

Moenie dat hulle jou laat dink dat jy verplig is om te baklei, soos kleintyd toe jy "VERPLIG" was om te baklei as iemand jou ouma omgeskop het nie! Vandag kan ek net lag as ek dink hoe 'n ou jou laat blouoog en bloedbek slaan het... Én jou hemp laat skeur het, sodat jou ma jou ook nog geslaan het... en dit, nie om jou ouma te beskerm nie, maar om 'n simpel sandhopie te beskerm. Ek kan ook maar net lag as ek dink hoe ons ons arms stompies kan baklei, nie om God te beskerm nie, maar om ons eie sandhopie idees van God te beskerm! Te beskerm teen ateïste, maar meer dikwels teen ander Christene wat ander idees het. Dié lag is egter 'n bietjie wrang, want die wonde van hierdie gevegte genees nie so gou soos 'n tienjarige se blouoog of bloedbek nie!

<< Terug
 
Die dag toe God weggeraak het....
Nuwe fossiel laat kreasioniste met eier in die gesig
Eugene Terreblanche vermoor
Bybelse potholes
Ek word bang
NG Kerk se moderatuur sê Kletskerk is 'n verleentheid
NG Kerk wil saambly weer bekyk
Is wetenskaplike studie sonde?
Ateïstiese dominee glo in 'n "God wat nie bestaan"
KLETSKERK VIR BEGINNERS


Skryf in op ons nuusbrief.
Name:
Email:
Laai AF
Kletskerk

Bemark jou Blad ook
klasifiseerd
Kontak
South Africa's Top Sites


Powered by phpBB © 2000, 2002, 2005, 2007 phpBB Group
Style edited by Lee for phpBB3