Tuisblad  Wie is ons?   Argief  Soek Artikels   Beknopte Index  Registreer  
Teken Aan   FAQ   Soek   Forum   Hulpstaaf   Foto's  

Artikels

Wat maak die Internet met die kerk?
Cobus van Wyngaard , 2010-03-01

Kletskerk het die afgelope tyd driftige emosies ontlok. Hoewel Kletskerk deur die NG Kerk se toedoen ontstaan het, het van die deelnemers se opmerkings gelowiges ontstel. Kletskerk het toe buite die NG Kerk se ruimte voortbestaan, maar die ongelukkigheid het nie opgehou nie. Nou is die kommunikasie-skakel na Kletskerk heeltemal verwyder. Dit gaan egter nie die internet wegneem nie. En die internet is besig om die gang van die mensdom te verander. En ook die gang van godsdiens. Cobus van Wyngaard se artikel behoort mens aan die dink te sit.

In 1882 het Friedrich Nietzsche vir homself ‘n tikmasjien gekoop. Hy kon nie meer skryf nie, omdat hy besig was om blind te word. Die tikmasjien het dit vir hom moontlik gemaak om aan te hou skryf. Kort hierna het een van sy vriende egter begin opmerk dat Nietzsche anders begin skryf. Die manier waarop hy sy filosofie verwoord het was besig om te verander omdat hy ‘n nuwe stuk tegnologie gebruik het om mee te kommunikeer.

In ons kerklike tradisie het ons egter waarskynlik nog ‘n meer radikale voorbeeld. In die 15de eeu is die drukpers ontwikkel, en toe Martin Luther ‘n paar dekades later met sy bekende hervormings begin, het hy gebruik gemaak van traktaatjies wat versprei kon word sodat sy idees by die massas kon uitkom. Later het hy natuurlik die Nuwe Testament in Duits vertaal en versprei. Deur dit te doen het Luther nie net bekende maniere waarop verandering in die kerk gebeur vinniger laat gebeur nie, hy het gesprek in die kerk in sy wese verander deur ‘n nuwe antwoord te gee op die vraag: “Wie mag die Bybel lees?” Maar dit was tegnologie wat dit moontlik gemaak het om hierdie vraag te vra, en ‘n ander antwoord te gee. Noudat dit moontlik was om vir elke persoon wat kon lees of skryf ‘n Bybel te gee, kon ons vir die eerste keer sê dat dit belangrik is dat elkeen self die Bybel lees. In 2006 was Time Magazine se persoon van die jaar jy. Jy. Soos in ek en jy. Die gewone persoon wat inligting skep en op die Internet laai deur blogs, wikis, youtube videos ensevoorst. Daar was nog nooit in die geskiedenis een stuk kommunikasie tegnologie wat so deurdringende invloed op die samelewing gehad het as die Internet nie. En die tempo waarteen verskillende aspekte van die Internet groei bly verbysterend. In 2009 het Facebook se gebruikers verby die 350 miljoen merk geklim en Twitter het teen die einde van 2009 tien keer meer gebruikers gehad as aan die ongeveer 4 miljoen van die begin van 2009.

Die vraag wat vir ons baie ernstiger gaan moet begin vra is egter: wat is die implikasie vir die kerk en teologie? Wat gaan die kerk met die Internet maak? Of dalk eerder: Wat gaan die Internet met die kerk maak?

Die kerk, of enige instansie, hou oor die algemeen van tegnologie wat lyk of dit potensiaal het om dinge vir ons beter, makliker, vinniger en meer effektief te maak. Maar wat gebeur wanneer tegnologie begin om dit wat ons vir honderde jare rigting gegee het uit te daag? Is dit moontlik dat die vrae wat die Internet vandag moontlik maak net so indringend gaan wees vir die kerk as dié wat 500 jaar terug na die drukpers gekom het?

Daar was nog nooit in die geskiedenis ‘n stuk kommunikasie tegnologie wat so wye invloed gehad het as die Internet nie. En natuurlik sien die kreatiwes onder ons die moontlikhede raak om dit wat ons nog altyd gedoen het beter te doen. En om nuwe dinge te doen om ou waarhede kreatief te kommunikeer. Maar dalk het ons ook die waagmoediges onder ons nodig, wat nou reeds ons begin herinner dat die Internet, hierdie tegnologie, ons manier van dink gaan verander, en in die proses dat dit ons teologie gaan verander. Dit kan nie anders nie. Dit is reeds besig om te gebeur. Op Facebook kom die stemme van jongmense wat lanklaas in die kerk was, en vooraanstaande teoloë in gesprek met mekaar. Sonder titels. Sonder CV’s. Hier is almal gelyk. Op Sondag dan staan ons predikante egter op preekstoele, met ‘n gesag wat ons gekry het in ‘n ander era, toe ander reëls gegeld het, en ander tegnologie gebruik is om te kommunikeer. Die wêreld waarin ons meer en meer begin leef vra kritiese vrae aan hierdie monoloog kultuur.

Die Internet het ‘n wêreld van gesprek geskep. Waar dit moontlik is vir elkeen om ‘n eie stem te hê. Waar dit vir my moontlik is om stemme te hoor nie omdat hulle deur ‘n institusie aangewys is om te praat nie, maar omdat hulle glo hulle het iets om by te dra en ek glo hulle het iets vir my te sê. Die tegnologie maak dit vir ons moontlik om in die teologie nuwe antwoorde op moeilike vrae te gee: Wie mag saam praat? Wie het die reg om te help vorm aan ons teologie vandag? Die kultuur wat rondom die Internet ontstaan maak dit meer en meer onmoontlik om iets anders te antwoord as: Almal wat wil. Almal is welkom.

Die realiteit vandag is eenvoudig dat gesprekke oor God, teologie, hetsy positief of negatief, gaan plaasvind. Ruimtes waar gespreksgenote mekaar op gelyke voet kan ontmoet gaan aanhou ontstaan. Bloggers gaan aanhou om te sê “hier is ek, ek glo ek kan ‘n bydrae maak”. En hulle bydraes gaan gelees word. Die vraag vir die kerk is eenvoudig: Gaan ons deel wees van hierdie gesprekke? Gaan ons onsself waag in ‘n ruimte waar die gesprek belangriker as die monoloog is? Gaan ons toelaat dat die tegnologie van ons dag ook nuwe moontlikhede oopmaak vir die teologie?

Cobus van Wyngaard is predikant by die Familiekerk NG Kameeldrif. Blog by anderkant.wordpress.com en mycontemplations.wordpress.com en kan gevolg word op Twitter by www.twitter.com/cobusvw BRON: KERKBODE

<< Terug
 
Die dag toe God weggeraak het....
Nuwe fossiel laat kreasioniste met eier in die gesig
Eugene Terreblanche vermoor
Bybelse potholes
Ek word bang
NG Kerk se moderatuur sê Kletskerk is 'n verleentheid
NG Kerk wil saambly weer bekyk
Is wetenskaplike studie sonde?
Ateïstiese dominee glo in 'n "God wat nie bestaan"
KLETSKERK VIR BEGINNERS


Skryf in op ons nuusbrief.
Name:
Email:
Laai AF
Kletskerk

Bemark jou Blad ook
klasifiseerd
Kontak
South Africa's Top Sites


Powered by phpBB © 2000, 2002, 2005, 2007 phpBB Group
Style edited by Lee for phpBB3