Tuisblad  Wie is ons?   Argief  Soek Artikels   Beknopte Index  Registreer  
Teken Aan   FAQ   Soek   Forum   Hulpstaaf   Foto's  

Artikels

Wetenskap en wensdenkery: Deel 1
Leon Retief, 2010-03-01

Die internet wemel van webwerwe wat pseudowetenskaplike standpunte verkondig. Dit is te verstane - hierdie medium bied ‘n uitstekende verhoog om allerhande nonsens aan ‘n niksvermoedende publiek te vertel. Kreasioniste is geen uitsondering nie.

Anders as regte wetenskaplikes doen kreasioniste bitter min navorsing, publiseer feitlik geen navorsingsresultate nie en kan ook nie intern samehangende teorieë oor hul sogenaamde “wetenskap” aanbied nie. Hulle is dus noodwendig aangewese op die reklamegeleenthede wat die internet bied en hulle maak meesterlik gebruik hiervan.

Reklame is eintlik maar net ‘n ander woord vir die advertensiewese wat, om dit sagkens te stel, nie altyd te korrek met die waarheid omgaan nie, gewoonlik omdat ‘n spesifieke produk verkoop wil word, ongeag die korrektheid van die bewerings wat in die betrokke advertensies gemaak word. Daar is dus sterk ooreenkomste tussen kreasionisme en die advertensiewese en ek sal hierdie leuens later bespreek.

Werklike natuurwetenskap is voortdurend onderworpe aan eweknie-evaluering wat foute medoeënloos uitwys. Dieselfde kan nie van sogenaamde “skeppingswetenskap” gesê word nie, aangesien dit nou al geruime tyd duidelik is dat sogenaamde “skeppingswetenskaplikes” feitlik enige hersenskim sal aangryp solank dit net met hul voorafopgestelde wêreldbeskouing ooreenstem.

‘n Goeie voorbeeld is Philip du Toit se response op artikels wat vroeg in 2009 op Kletskerk se webwerf verskyn het. Uit die aard van die saak kan ek nie reageer op al du Toit se response nie want dit sal meer tyd in beslag neem as wat ek kan bestee. Hierdie reeks artikels sal dan ook my enigste reaksie wees – mens kan net soveel tyd spandeer om kreasionistiese feëverhale te weerlê en bowendien het ek, soos die Ingelse sê, “a life to live” – dit is ook waarom ek so lank geneem het om te respondeer.

Ek begin met ‘n bespreking van Du Toit se reaksie op die artikel oor bewussyn en kwantumfisika wat op Kletskerk se webwerf verskyn het. In die betrokke artikel verwys ek kortliks na aspekte van kwantumfisika wat moontlik met bewussyn te doen het. Daar is duidelik gestel dat die betrokkendheid van kwantumfisika by bewussyn slegs as ‘n moontlikheid beskou moet word en ek het die artikel geskryf om die eenvoudige rede dat dit ‘n interessante alternatief tot ander teorieë is. Geen bewering is gemaak dat die teorie wye aanhang geniet of dat dit algemeen aanvaar word nie. Te oordeel aan reaksies op du Toit se webwerf lyk dit egter asof sommige van sy geesgenote dink dat ek die spesifieke teorie “aangryp” – om nie te praat van die betrokke persone se onvermoë om te onderskei tussen bewussyn en moraliteit nie!

Du Toit skryf (telkens my beklemtoning): “Kwantumfisika, wat op sig self ‘n spekulatiewe teorie is word aangewend om bepaalde aspekte van verskynsels te probeer verklaar”, “…die tentatiewe aard van kwantumfisika…” en “...asook die feit dat wetenskaplikes verskil oor die voorspellings wat mens kan waag aan die hand van kwantumfisika. Daar is bv. verskil van mening of ‘n subatomiese eenheid gelyk op verskillende plekke teenwoordig kan wees.” Hy verskaf ‘n skakel na Wikipedia waar kwantumfisika kortliks bespreek word.

Du Toit se stelling dat kwantumfisika spekulatief en tentatief is getuig van diepgaande, grondige en allesomvattende onkunde oor hierdie aspek van fisika en is van alle waarheid ontbloot – en hierdie is baie sagkens gestel. Kwantumteorie is stewig gevestig, baie akkuraat en word algemeen deur fisici aanvaar. Fisika soos ons dit ken kan nie sonder kwantumfisika bestaan nie en die moderne samelewing sal ten gronde gaan sonder die produkte wat hierdie teorie tot gevolg gehad het: televisie, rekenaars, die internet, DVD-spelers en kernkrag is maar net enkele voorbeelde.

Aangesien du Toit so lief is om Wikipedia as bron te gebruik, laat ons kyk na ‘n paar aanhalings oor kwantumfisika wat op Wiki se webwerf te lees is, onder andere op die skakel wat hy self verskaf. In elke geval is beklemtoning deur my aangebring.

1) Quantum mechanics… is a branch of physics dealing with the behavior of matter and energy on the minute scale of atoms and subatomic particles. Quantum mechanics is fundamental to our understanding of all of the fundamental forces of nature except gravity.

2) Quantum mechanics is the foundation of several branches of physics, including electromagnetism, particle physics, condensed matter physics, and even parts of cosmology. Quantum mechanics is also essential to the theory of chemical bonding (and hence all of chemistry), structural biology, and technologies such as electronics, information technology, and nanotechnology. A century of experiments and of work in applied science has proved quantum mechanics successful and practical.

3) Quantum mechanics began in the early 20th century… The wider physics community soon accepted quantum mechanics because of its highly accurate empirical predictions, especially in systems where Newtonian mechanics fails. A major early success of quantum mechanics was its explanation of wave-particle duality, namely of how subatomic particles have wave-like properties and waves have particle-like properties. Quantum mechanics also applies to a wider range of situations than general relativity does, e.g., to systems whose scale is atomic or smaller, and to those having very low or very high energies or subjected to the lowest temperatures.

4) Quantum theory provides accurate descriptions for many previously unexplained phenomena such as black body radiation and stable electron orbits. It has also given insight into the workings of many different biological systems, including smell receptors and protein structures.

5) Predictions of quantum mechanics have been verified experimentally to a very high degree of accuracy. Thus, the current logic of correspondence principle between classical and quantum mechanics is that all objects obey laws of quantum mechanics, and classical mechanics is just a quantum mechanics of large systems (or a statistical quantum mechanics of a large collection of particles). Laws of classical mechanics thus follow from laws of quantum mechanics at the limit of large systems or large quantum numbers.

In die Columbia Encyclopedia staan die volgende:

“quantum theory modern physical theory concerned with the emission and absorption of energy by matter and with the motion of material particles; the quantum theory and the theory of relativity together form the theoretical basis of modern physics. Just as the theory of relativity assumes importance in the special situation where very large speeds are involved, so the quantum theory is necessary for the special situation where very small quantities are involved, i.e., on the scale of molecules, atoms, and elementary particles.”

Talle en talle en talle soortgelyke voorbeelde uit ander bronne as Wikipedia is vrylik en algemeen beskikbaar. Navorsing oor kwantumfisika het waarskynlik meer Nobelpryse tot gevolg gehad as enige ander aspek van fisika en hierdie pryse word steeds toegeken aan kwantumfisici, insluitende die toekenning vir 2008.

Kom ons kyk na wat Bruce Rosenblum en Fred Kuttner, fisici verbonde aan die Universiteit van Kalifornië, oor kwantumfisika sê: “Quantum theory is stunningly successful. Not a single one of its predictions have ever been wrong. Quantum mechanics has revolutionised our world. One-third of our economy depends on products based on it.”

Kwantumfisika as spekulatiewe en tentatiewe teorie? Gmf! Bestaan daar betekenisvolle meningsverskil onder fisici of ‘n subatomiese partikel op meer as een plek gelyktydig kan wees, soos wat kwantumfisika ons vertel, en soos inderdaad eksperimenteel bewys is? (Ten spyte van wat du Toit sy lesers probeer wysmaak?) Wanneer mens du Toit se skakel (weereens na Wikipedia, wat anders?) lees dan word dit duidelik dat daar na Einstein verwys word:

“Einstein himself is well known for rejecting some of the claims of quantum mechanics. While clearly inventive in this field, he did not accept the more philosophical consequences and interpretations of quantum mechanics, such as the lack of deterministic causality and the assertion that a single subatomic particle can occupy numerous areas of space at one time.”

Einstein het inderdaad nooit vrede gemaak met baie aspekte van kwantumteorie nie. Einstein is ook al meer as vyftig jaar gelede oorlede en sedert sy afsterwe het geen ander fisikus van naam objeksies teen hierdie teorie geopper nie. Trouens, sy onwilligheid om aspekte van hierdie teorie te aanvaar het veroorsaak dat hy teen die einde van sy lewe deur sy eweknieë met ‘n mate van simpatie en meewarigheid as ‘n soort van agtergeblewe randeier beskou is.

Mens moet wonder waarom du Toit hierdie skewe beeld van kwantumfisika aan sy lesers bied, waarom hy die indruk skep dat die “verskil van mening” waarvan hy praat ‘n algemene verskynsel onder hedendaagse fisici is terwyl die artikel wat hy self uit Wikipedia aanhaal slegs die naam noem van een fisikus – Einstein, reeds vyftig jaar oorlede – en waarom hy nie meld dat hy van slegs een fisikus praat nie en waarom hy nie sê dat geen gerekende eietydse fisikus kwantumfisika verwerp nie. Is dit doelbewus of uit onkunde? En dan skryf hy dat dit evolusioniste is wat leuens vertel?

Du Toit se verwysing na die gewildheid van kwantumfisika onder aanhangers van die New Age is korrek in die sin dat New Agers dit graag gebruik om allerhande verskynsels te probeer verklaar, maar hul sienswyse is gebaseer op ‘n ewe diepgaande onkunde van hierdie vakgebied. Die respons van regte wetenskaplikes tot Fritjof Capra en ander “New Agers” soos Deepak Chopra is ‘n meewarige krul van die bolip.

Dat die natuurwetenskap tans nie ‘n bevredigende verklaring van bewustheid kan bied nie beteken hoegenaamd nie dat daar nie ‘n naturalistiese verklaring bestaan nie. Indien du Toit se aanhaling van Heb 4:12 beteken dat daar ‘n skeiding is tussen “siel en gees” dan moet mens ten eerste vra wat die verskil is tussen siel en gees en op grond waarvan hierdie onderskeid getref word.

Dit is nie duidelik wat du Toit bedoel met “psige” nie, maar ooglopend beskou hy ten minste sommige aspekte van menslike breinfisiologie as bonatuurlik. Die volgende vraag tree dan na vore: indien die menslike psige ‘n nie-natuurlike verskynsel is, hoe kan ‘n nie-natuurlike en nie-materiële entiteit ‘n materiële entiteit beïnvloed? Oftewel, hoe kan nie-natuurlike gebeure in of buite die brein die gedrag van die liggaam affekteer en hoe meet mens hierdie nie-natuurlike gebeure? Iewers moet daar iets materieël van aard ontstaan om die skakel te vorm tussen die nie-materiële en die materiële, oftewel, iets wat die nie-materiële in staat stel om die materie (insluitende die brein) waaruit ‘n menslike liggaam bestaan in beweging te bring. Waar in die brein geskied dit, hoe meet mens dit en op grond van watter beginsels affekteer dit die fisiologie van die brein?

Die volgende vraag is: indien die psige dan nie-materieël is, waarom kan ‘n breinbesering, ‘n frontale lobotomie of selfs chemiese stowwe iemand se gedrag sodanig beïnvloed dat die hele persoonlikheid (psige) verander? Hoe kan veranderinge in materiële substans dan nie-materiële aspekte beïnvloed?

As mens gedurig na die bonatuurlike moet gryp om aan iets wat tans onverklaard is ‘n “verduideliking” te probeer gee sou ons vandag nog in die steentydperk geleef het. Nie te lank gelede nie is epilepsie nog as duiwelbesetenheid beskou, ‘n bonatuurlike verskynsel wat nie op ‘n naturalistiese wyse verklaar kan word nie. As daardie persepsie, heeltemal in ooreenstemming met du Toit se sienswyse van die menslike psige, steeds aan die orde van die dag was dan sou daar geen behandeling vir hierdie siekte gewees het nie, aangesien mens nie bonatuurlike verskynsels met materiële substanse kan behandel nie.

Du Toit noem dat daar geen verklaring is vir “ander werklike dinge in menswees… bv. kreatiwiteit, liefde, emosie, idee, geloof” nie. Terwyl die wetenskap inderdaad nog ‘n lang pad sal moet aflê voordat hierdie verskynsels selfs gedeeltelik verklaar kan word, sal du Toit dalk verbaas wees om te weet hoeveel daar reeds al bekend is.

Fassinerende navorsing bestaan oor primaatgedrag, soos gelees kan word in enige van die boeke deur Frans de Waal van Emory Universiteit en die Yerkes Primate Research Center en veral in die boekie Primates and Philosophers.. Saam met ander wetenskaplikes het hy sonder twyfel getoon dat bewussyn nie ‘n unieke verskynsel is wat beperk is tot Homo sapiens nie, maar dat dit ‘n kontinuum vorm tussen ander primate soos bonobos en die mens. Ander primate as die mens besit ‘n sin vir regverdigheid en altruïsme – vanselfsprekend minder ontwikkeld as dié van die mens, maar dit is daar. Die gevolgtrekking is onvermydelik: Ons is nie sò uniek as wat ons dink nie en daar is niks bonatuurliks aan ons gedrag of breinfisiologie nie.

<< Terug
 
Die dag toe God weggeraak het....
Nuwe fossiel laat kreasioniste met eier in die gesig
Eugene Terreblanche vermoor
Bybelse potholes
Ek word bang
NG Kerk se moderatuur sê Kletskerk is 'n verleentheid
NG Kerk wil saambly weer bekyk
Is wetenskaplike studie sonde?
Ateïstiese dominee glo in 'n "God wat nie bestaan"
KLETSKERK VIR BEGINNERS


Skryf in op ons nuusbrief.
Name:
Email:
Laai AF
Kletskerk

Bemark jou Blad ook
klasifiseerd
Kontak
South Africa's Top Sites


Powered by phpBB © 2000, 2002, 2005, 2007 phpBB Group
Style edited by Lee for phpBB3