Tuisblad  Wie is ons?   Argief  Soek Artikels   Beknopte Index  Registreer  
Teken Aan   FAQ   Soek   Forum   Hulpstaaf   Foto's  

Artikels

George Claassen vertel waarom hy nie in God glo nie
Jean Oosthuizen, 2008-05-03

Die wetenskap erken sy onsekerheid, korrigeer sy foute deur herhaaldelike ondersoek en verifiëring van bestaande teorieë. Daarteenoor klou gelowiges vas aan iets waarvoor daar geen enkele bewys bestaan nie. So gesels die wetenskapjoernalis George Claassen (regs) in ‘n openhartige onderhoud met Kletskerk. In sy gesprek met Jean Oosthuizen vertel Claassen breedvoerig waarom hy meen godsdiens nooit sal verdwyn nie, maar wel die gode van vandag.

In die onderhoud wat hier volg verduidelik hy ook hoekom hy die moontlikheid van ‘n skeppende en lewende godheid heeltemal uitskakel.

Hoe het dit gebeur gebeur dit dat iemand soos jy wat uit ‘n Christelike huis kom sy geloof in ‘n godheid verloor?

Ek dink nie so iets gebeur ooit oornag nie. Ek glo nie juis aan die Damaskus-ervaring in die lewe nie. Mense verander gewoonlik oor ‘n lang tyd en met my was dit dieselfde. Ek het oor ‘n lang tyd oor wetenskaplike bevindings gelees en kritiese vrae begin vra oor die Bybelse skeppingsverhaal. Jy moet besef ek het in ‘n huis grootgeword waar my ouers ons aangemoedig het om altyd krities te dink, om baie te lees, om vrae te stel, om nie enige antwoord van die dominee, onderwyser, sportafrigter ens. as die waarheid te aanvaar nie. My ouers is beide gelowige mense, maar het ons altyd blootgestel aan die breë spektrum van die intellektuele rykdomme wat daar in boeke bestaan. En lees het ons gelees!

Ek kan my nie vereenselwig met die Bybelse woorde dat jy net soos ‘n klein kindjie moet glo nie. Glo net lei tot allerhande vergrype. Glo net het Hitler gebaar, apartheid, Galileo se vervolging, al was die hemelligame se bewegings anders as wat die kerk voorgehou het, noem maar op watter vergrype alles, net omdat mense gevra is om kinderlik te glo en hul kritiese ingesteldheid te laat vaar.

Sluit jy die moontlikheid van ‘n godheid heeltemal uit of glo jy daar is tog ‘n kans dat daar iewers ‘n godheid is al verskil dit dalk heeltemal en radikaal van die God in die Bybel?

Ek sluit die moontlikheid van ‘n skeppende en lewende godheid heeltemal uit. Ek soek bewyse omdat ek wetenskaplik ingestel is. Die aansprake vir ‘n skeppende godheid is in wese vergesog. Daar bestaan nie eens een enkele bewys vir so ‘n god nie. Moenie die Bybel as ‘n bewys bied nie; dit is ‘n antieke boek geskryf deur ‘n klompie wetenskaplik ongeletterde mans wat nie geweet het wat ons vandag weet nie. En dis vermeng met mirakels en magiese verskynsels wat ons as rasionele mense in geen ander sfeer sal aanvaar nie behalwe dat dit kwansuis aanvaarbaar sou wees in godsdiensterme. Glo ons sterrwiggelaars en astroloë? Nee, want daar is geen bewyse vir hul vergesogte aansprake nie. Maar is geloof in ‘n skepper god, sonder enige bewyse, nie net so vergesog nie? Waarom aanvaar ons dit dan so maklik? Is dit omdat ons kinderlik glo en dus nie vrae mag stel nie?

Carl Sagan het hierdie faset beklemtoon, “Extraordinary claims need extraordinary evidence.” Daar is geen enkele bewys vir die bestaan van ‘n god wat lewe op Aarde geskep het nie. Dit kom uit die antieke mites van die Midde-Ooste, waar Sumeriese en ander Mesopotamiese godsdienste almal lank voor die Christus-verhaal presies dieselfde kenmerke in hul godsdienste verkondig het: ‘n vader-godheid wat sy seun na die Aarde stuur, gebore uit ‘n maagd, wat wonderwerke doen, wat sterf vir die sondes van mense en wat opvaar na die hemel. En daarna ‘n ewige lewe vir die getroues en gelowiges voorberei. Die Christelike godsdiens was dus ‘n baie goeie kopieerder van ander antieke godsdienste. En dit maak dit net soveel minder geloofwaardig want ons glo nie meer in Baäl nie, ook nie in die Griekse en Romeinse gode Zeus, Jupiter, Aphrodite, Venus ens. nie.

Richard Dawkins som ons ateïste se posisie baie goed op en dit laat ‘n mens wonder hoekom Christen-gelowiges nie dadelik sy punt raaksien nie: “Die feit dat wentelende teepotte en tandmuise nie bewysbaar is nie, word nie deur enige rasionele mens beskou as die soort feit wat enige interessante meningsverskil oplos nie. Nie een van ons voel die verpligting om enige van die miljoene vergesogte dinge waarvan ’n vrugbare of geestige verbeelding kan droom verkeerd te bewys nie. Ek vind dit ’n amusante strategie om, wanneer ek gevra word of ek ’n ateïs is, te benadruk dat die vraagsteller ook ’n ateïs is wanneer ons verwys na Zeus, Apollo, Amon, Ra, Mithras, Baal, Thor, Wotan, die Goue Kalf en die Vlieënde Spaghetti Monster. Ek gaan net een god verder,” skryf Dawkins in The Devil’s Chaplain.

Ek gaan ook net een god verder. Eintlik is gelowiges almal ateïste in ‘n groot mate. Dis net daardie een god waarvan julle nog moet afstand doen.

Jy noem jouself ‘n ateïs maar jy kan tog nie die moontlikheid van ‘n godheid honderd persent uitsluit nie. Is jy nie eerder ‘n agnostikus nie?

Agnosticisme is myns insiens ‘n ontsnaproete om van die sogenaamde “aaklige” werklikheid van ‘n bestaan sonder god weg te kom. Dis soos ‘n tussenstadium. Ja, wetenskaplikes het nie bewys vir die nie-bestaan van god nie. Maar dan is die bewyse oorweldigend dat die bevindings wat die wetenskap reeds gemaak het in evolusionêre biologie, genetika, genoomkartering, fisika, geologie, paleoantropologie en ander verwante velde, die fiktiewe skeppingsverhaal ontbloot, dat dit bloot ‘n mooi storie vir mense is wat nie sonder die kruk van godsdiens kan klaarkom nie.

Jy het al aan my gesê jy sal aan God glo as jy net een bewys kan kry dat hy bestaan. Is alles wat bestaan werklik bewysbaar? Baie mense sal vir jou sê hulle “ervaar” God se teenwoordigheid in hulle lewens. Neem byvoorbeeld musiek. Hoe bewys jy dit is mooi? Mens kry tog musiek en jy kry net ‘n klomp vals note. Hoe bewys mens wat is musiek en wat nie?

Nee, alles is nie bewysbaar nie, maar dit beteken nie dat ons daarom moet moed opgee om iets bewys te kry nie of bewyse te soek nie. Wetenskaplikes se krag en die wetenskap se krag is juis dat dit nooit absoluut glo nie, dat dit selfkorrigerend is en deurlopend bestaande teorieë evalueer en aanpas, sou nuwe inligting verkry word.

Godsdiens werk nie so nie. Dit glo absoluut en kinderlik, vra nie moeilike vrae nie, is tevrede, soek nie nuwe kennis nie en is eintlik vreesagtig bang vir nuwe kennis wat bestaande geloof kan aantas en ondergrawe. Gerekende sielkundiges en neurowetenskaplikes soos Steven Pinker, Sam Harris en ander wat godsdienservarings bestudeer, het lankal reeds bevind dat daardie mense wat hul sogenaamde god so in hul lewe “ervaar”, dikwels totaal irrasioneel dink.

Daar is genoeg bewyse dat die groepsgevoel wat godsdiensbeoefening byvoorbeeld in die erediens genereer, toegeskryf kan word aan sekere breinfunksies wat deur serotonien-afskeidings in die brein drasties versterk word. Dis ook so in musiekbelewenis wat tot serotonienafskeidings lei, in die doodgewone proses van oefening waar chemiese stowwe in die brein afgeskei word wat jou lekker laat voel. Maar dis nog nie god nie. Die Amerikaanse genetikus Jerry Coyne som hierdie verskil tussen rasionele denke en godsdiens baie goed op: “. . . die werklike oorlog is tussen rasionaliteit en bygeloof. Wetenskap is maar een vorm van rasionaliteit, terwyl godsdiens die algemeenste vorm van bygeloof is. As die geskiedenis van die wetenskap ons iets wys, is dit dat ons nêrens kom deur ons onkunde “God” te noem nie.”

Voorsien jy dat die wetenskap een of ander tyd alle vorme van godsdiens gaan uitfaseer of is daar naas die wetenskap ook ‘n plek vir godsdiens in een of ander vorm?

Ek dink godsdiens sal nooit verdwyn nie, maar die gode van vandag sal wel. Nes Zeus moes plek maak vir Jupiter, so sal Christus plek maak vir ander gode. Die Egiptenare glo nie meer in die songod Ra en Osiris nie. Vandag is Mohammed die profeet van Allah, net ‘n nuwe, eietydse god. As daar een ding is wat die geskiedenis my leer, is dat bygeloof nie staande kan bly voor rasionele ondersoek en ontdekkings nie. Daarom glo ons vandag nie meer die kerk was reg oor die son wat beweeg nie, maar glo en weet ons Galileo was reg.

Dit sal weer gebeur. Godsdiens is net ‘n uiters sterk meem, soos Susan Blackmore dit in haar uitstekende boek The Meme Machine beskryf. Weet jy hoekom Dawkins so gehaat is by gelowiges? Omdat hy juis die eerste was om die verskynsel van meme as die kulturele eweknie van gene beskryf het. En ‘n wêreld begin oopmaak het op die mens se hunkering na ‘n godheid wat probleme kan oplos. En natuurlik die ewige lewe as wortel voor jou neus hou.

Terwyl ons van Dawkins praat, party mense kry soms uit jou rubrieke die indruk dat jy nes Dawkins ‘n wrewel het aan godsdiens en dat jy daarom ook jou mes in het vir gelowiges. Is dit waar en hoe kom jy met gelowiges oor die weg?

Ek kom baie goed oor die weg met gelowiges. Ek dink my gesprek hier met jou getuig daarvan, maar vra maar my pa van 91 hoe goed ons oor die weg kom. Vra maar my baie vriende wat gelowiges is of ek hulle dwars in die krop steek. Ek verdra hulle, maar is terselfdertyd ook bitter jammer dat hulle so ‘n lewe van gevangeneskap en verknegtheid wy aan ‘n mitiese figuur waarvoor daar nie een enkele bewys bestaan nie.

Ek het geen wrewel aan godsdiens nie, maar ek het wel ‘n ongeduld met die wyse waarop klein kindertjies breinspoeling deurgaan om in ‘n mitiese figuur te bly glo. Ons leer kinders van kleins af oor die tandmuis, Vader Kersfees, feetjies, dwergies ens, maar een of ander tyd begin ons ongeduldig raak met kinders wat steeds glo in die tandmuis, Vader Kersfees en die feetjies. Ons vertel hulle die waarheid oor die nie-bestaan daarvan. Waarom nie met god/gode nie? Waarom die dubbele standaarde?

Ons het net so min bewys vir ‘n skepper god as wat ons bewys het vir die tandmuis, Vader Kersfees en feetjies. Soos die Britse skrywer Douglas Adams aangetoon het, “Is dit nie genoeg om te sien dat ’n tuin mooi is sonder dat dit nodig is om te glo dat daar ook feetjies onder in die tuin woon nie?” – Dit in reaksie op gelowiges se aanspraak dat die skoonheid van die natuur bewys is dat God bestaan.

Dink jy daar is hoegenaamd enige rol vir die kerk om te speel in vandag se samelewing? Ek dink byvoorbeeld aan die talle projekte om vigs te bekamp, armoede te verlig en vele ander.

Natuurlik is die kerk belangrik as sosiale instelling in die samelewing. Maar dan in die rol van Barmhartige Samaritaan, omdat instellings vir mense moet omgee. Dit is onnodig dat jy die uiters belangrike opheffingswerk wat die kerk doen aan ‘n mitiese figuur hoef te koppel. Doen goed aan jou medemens omdat dit jou natuurlike, menslike, noem dit maar evolusionêre plig is. Ander spesies doen dit ook. Daar is genoeg navorsing wat toon dat sjimpansees en ander primaatspesies byvoorbeeld in die natuur ook hul lewe sal opoffer vir hul medespesielede. En hulle doen dit nie omdat die wortel van die ewige lewe deur ‘n mitiese god aan hul voorgehou word nie.

Die verskille tussen gelowiges en ongelowiges is wyd en dikwels vol emosie. Is daar werklik sin in vir mense met sulke uiteenlopende standpunte om daaroor met mekaar te praat soos wat op Kletskerk gebeur?

Ek dink Kletskerk vervul ‘n uiters belangrike funksie om gesprek te bevorder, nie om mense te “bekeer” na die een of ander kant toe nie, maar om dialoog aan te moedig, om ander denkrigtings in die kerk in te bring, om wyer te dink as die dogma van die kerk.

Kom ek noem een voorbeeld: die kerk se lamsakkige en lafhartige standpunt en benadering oor gays. En dit ondanks wat die wetenskap oor gay-wees sê en bevind. Die kerk sluit sy ore vir wetenskaplike bevindings dat om gay te wees, baie te doen het met genetiese faktore, met die ontwikkeling van die fetus in die baarmoeder, ook in ‘n mindere mate met die “nurture”-faktor in die grootmaak van kinders.

Die kerk ignoreer dit en gay-haters en -veroordelaars (sluit die kerk maar hier in wat verkondig jy kan van jou gay-wees genees word) is lief om te sê homoseksualiteit kom net by mense voor, dat die res van die natuur dit sterk afkeur. Dit is doodgewoon onsin want enige iemand wat ‘n studie van primate doen, ook van bv. voëls, sal vind daar is oorvloedige bewyse vir homoseksualiteit onder daardie spesies. Waarom verkondig predikante en lidmate hierdie soort leuens oor wetenskaplike bevindings?

Ek kry die indruk die Afrikaanse pers is skrikkerig om werklik oop gesprek oor geloof aan te moedig. Ek verwys onder meer na die Deon Maas geval. Wat is jou indruk as joernalis van spesifiek die Afrikaanse media se hantering van gesprekke soos die?

Die Afrikaanse media is doodgewoon lafhartig wanneer dit kom by die aanmoediging van die oop gesprek oor godsdiens. Jy kan enigiets onder die son kritiseer, maar godsdiens mag nie gekritiseer word nie. Vanwaar hierdie spesiale beskerming wat godsdiens geniet? Bied ons spesiale beskerming aan astroloë? Aan mense wat in die Loch Ness-monster glo? Die Jeti en Groot Voet? Aan mense wat sê hulle glo in ontvoerings deur Vreemde Vlieënde Voorwerpe uit die buitenste ruim? Aan mense wat glo hulle kan met dooies praat?

Nee, ons wy nie bladsye en bladsye kopie daaraan nie, maar ons dank vinnig die rubriekskrywer af as ‘n horde oningeligte en dreigende “Christene” – jy sal let ek plaas die benaming tussen aanhalings – ‘n koerant kamstig wil afbrand of boikot. Waar is die beginsel van joernalistieke en redaksionele onafhanklikheid? Ongelukkig het die MBA’s wat deesdae die base is van groot nuuskorporasies geen of bittermin respek vir redaksionele onafhanklikheid nie. Of dit nou is om die druk te weerstaan van die regering of amptenary, of die druk van godsdienstige afdreigers, dit maak nie saak nie, Midas regeer. Dit is ‘n bedenklike tyd wat ons in die joernalistiek tans beleef en ons gaan eendag die prys daarvoor ten duurste betaal. En dit tas die nuusmedia se geloofwaardigheid ten diepste aan. Die dag as ons ophou om wetenskaplike waarhede en bevindings bekend te maak omdat dit sekere lesers ongemaklik laat voel, dan het die uur geslaan. En ek is bevrees, dit gebeur daagliks, Maas is maar net een voorbeeld.

Jy staan tog seker dikwels net soos gelowiges verstom en verwonderd oor die grootsheid van die “skepping” om jou. Soos Einstein moet jy ook jou “awe!” oomblikke van verwondering hê. Is krities denkende gelowiges se verwondering oor dit wat hulle “God” noem regtig soveel anders as jou eie verwondering oor die natuur en dit wat ons nie verstaan nie?

Natuurlik staan ek verwonderd oor die Aarde en die natuur. Jy sal oplet ek vermy die woord “skepping”. Maar ek staan verwonderd oor die natuurwette wat so geordend lyk, maar nie werklik is nie. Inderdaad is die geordendheid bloot ’n vernislagie bo die onderliggende potensiaal tot chaos, die sogenaamde Skoenlapper-effek wat deur die vader van die Chaos-teorie, Edward Lorenz, geformuleer is.

Dink maar aan die 2004-tsoenami by die Nicobar-eilande wat gelei het tot die dood van meer as ‘n kwartmiljoen mense. Waar was die orde? En moet asseblief nie vir my sê dit was God se raadsplan nie, dat ons kinderlik daarvoor moet buig nie. Dit was niks anders nie as die natuur wat ons nie kan beheer nie, al dink ons ons kan. God was nêrens nie, hy het nie die tsoenami veroorsaak nie en kon dit ook nie keer nie. Die natuur het sy gang gegaan.

Waarom dink jy sou soveel miljoene mense oor die eeue heen aan God glo en selfs hulle lewens daarvoor offer as daar geen godheid is nie?

My teenvraag is: waar is daardie mense nou? Het ons enige bewyse dat hulle wel die ewige lewe beërwe het? Nee, ons het nie eens één enkele mens wat teruggekeer het uit die dood om ons te sê hy of sy het reg gehad, daar ís ‘n god wat jou beloon met die ewige lewe nie. Vrees is die enkele grootste faktor wat mense in ‘n god laat glo; vrees vir die dood, vrees vir die ewige stilte. En daardie vrees laat ons irrasionele dinge glo, ten alle koste! “Vrees is die hoofoorsaak van bygeloof en een van die hoofredes vir wreedheid. Om vrees te oorwin is die begin van wysheid,” het Bertrand Russell tereg opgemerk. Hy het selfs verder gegaan: “Baie mense sal liewer doodgaan as om te dink. Dit gebeur ook dan.”

Is jy bekommerd dat fundamentalisme besig om toe te neem of dink jy hulle is ‘n luidrugtige minderheid?

Ja, ek dink dit is ‘n wêreldbekommernis. Onthou: dit is godsdiens wat daardie skakers teen die World Trade Centre se twee torings laat vasvlieg het. Dink jy hulle sou dit gedoen het as daar nie die belofte was van ‘n ewige lewe hierna nie? Ek het geen twyfel hulle sou nie. Nes Christene wat ‘n geweer sal optel om ‘n dokter dood te skiet wat wettige aborsies by ‘n kliniek doen; of soos Christene wat kruistogte onderneem waarin duisende in die naam van God doodgemaak en afgemaai word.

Gaan lees maar die aangrypende verhaal wat die groot Vlaamse skrywer Louis Paul Boon vertel oor die 80-jarige oorlog tussen Spanje en die Lae Lande. Het Geuzenboek is die beste voorbeeld van hoe fundamentalisties Christene kan wees, gelowiges. En ongelukkig geskied dit steeds.

Ek is met die dood gedreig omdat ek dit durf waag het om die 60 000 Magtige Manne-mars te kritiseer. Omdat ek krities Angus Buchan bevraagteken dat al die sogenaamde wonderwerke met hom gebeur het. Waar is die bewyse? Ons moet hom net glo en as ons dit bevraagteken, word ons verdoem. Fundamentalisme het Deon Maas se mond gesnoer. Dit is in ons midde en dit is skrikaanjaend en onverdraagsaam.

Waar is Christus se liefde in al hierdie gevalle? Hoe meer ek met Christene te doen kry, hoe minder twyfel ek dat Christus net ‘n mitiese god is. Want ek kan nie sy filosofie van die Bergpredikasie in Christene se lewens opmerk nie. Dis totaal afwesig. Dit is wat fundamentalisme is.

Jy verwys na die Mighty Men saamtrek. Hoe voel jy oor die opgewondenheid in sekere kringe oor die 60 000 mans wat naby Greytown in KwaZulu-Natal saamgetrek het om na Angus Buchan te luister?

Ek dink ek het die vraag reeds hierbo geantwoord. Dit is ‘n aaklikge voorbeeld van hoe die gemiddelde Suid-Afrikaner oor geen onsinverklikkers beskik nie. Waar is die kritiese bevraagtekening? Waar is die doodgewone gesonde verstand? Waar is die wetenskaplike bewyse om Buchan se aansprake te verifieer? Praat van kinderlik glo! Die histerie is werklik angswekkend in ‘n eeu waar rasionele denke ons enigste redding is om siektes te bestry, mense van hongersnood te red, die planeet van aardverwarming te laat ontsnap. Nie mense wat soveel onsin glo nie. Jy kan bid tot jy blou word in jou gesig en dit gaan nie aardverwarming keer nie.

Die president wat die grootste hindernis is in die pad van stappe om aardverwarming te keer, is ‘n fundamentalistiese Christen. Hy val Irak binne en vertel ons hy het ‘n bevel van sy god daaroor gekry. En so sterf meer as 4 000 Amerikaanse soldate en meer as 150 000 Irakse burgerlikes. Dis hoe die gesig van godsdiens lyk. En dis vandag nie meer die Middeleeue nie toe mense nog verskoon kon word dat hulle bygelowig was.

Sal die wêreld dan ‘n beter plek wees sonder godsdiens en waarom sê jy so?

Ja, beslis. Ek dink mense sal meer empatie met hul medemens hê as hulle dit nie as ‘n goddelike bevel sien nie, maar as ‘n natuurlike uitvloeisel van hul genetiese en sosiale ordening. Godsdiens het werklik te veel dooies langs die pad gelaat deur die geskiedenis. Die geordende samelewings wat ons het, het morele kodes nie vanweë godsdiens nie, maar omdat daar oor honderde jare ‘n regstelsel ontwikkel het wat ons lewe reguleer. Ek mag nie my medemens doodslaan nie en ek mag nie sy goed steel nie: maar nie omdat een of ander godsdiens dit voorskryf nie, maar omdat dit die geordende wette van alle beskaafde samelewings is, oor eeue ontwikkel en lank voordat godsdienste hul eie wette en gebooie opgestel het.

Jy haal vir Ernest Hemingway op jou blog aan wat gesê het: All thinking men are atheists. Stem jy saam of is daar darem volgens jou ook denkende mense wat gelowig is? Wat van ‘n vooraanstaande wetenskaplike soos Francis Collins met wie jy al self ‘n onderhoud gevoer het en sommige gelowiges wie jy persoonlik ken?

Ek dink nie dis ek wat Hemingway aangehaal het nie. Miskien een van die kommentaarskrywers.

Jammer jy is reg. Dit was op Sceptic South Africa waar ek die aanhaling gesien het. Maar is dit waar?

Nee, ek dink nie dis waar nie. Nie alle denkende mense is ateïste nie, maar dan is ook nie alle ateïste denkende mense nie. Stalin kom by my op. Hitler was kop in een mus met die Rooms-Katolieke kerk, wys nuwe navorsing. Die pous het geswyg toe hy moes opgestaan het teen die onreg van Nazi-Duitsland. En Hitler het dikwels van God as ‘n gegewe werklikheid gepraat.

Natuurlik is daar denkende Christene, maar ek wil beweer hulle is almal effe bang vir die dood. Of vir die onbekende ná die dood. Daarom verkies hulle Pascal se geen-verloor-opsie, dat jy netsowel mag glo want wat kan jy nou eintlik verloor? Is dit nie ‘n basiese lafhartige uitgangspunt nie? Waarom nie liewer jou lewe lei vanuit ‘n rasionele standpunt dat jy bewyse soek en daarvolgens besluite neem nie? Daar is tog genoeg wetenskaplike bevindings wat eintlik die Bybelse skeppingsverhaal as absurd bewys.

Ek dink Collins maak eintlik bietjie van ‘n gek van homself. Hy steun absoluut die wetenskaplike metode van die bewyslas en onafhanklike verifiëring van aansprake. Maar net so solank dit nie betrekking het op geloof in God nie. Dan skakel hy sy onsinverklikker gerieflikheidshalwe af.

Jou onlangse boek Geloof, bygeloof en ander wensdenkery – perspektiewe op ontdekkings en irrasionaliteite by Protea Boekhuis het baie reaksie uitgelok tydens die verskyning daarvan. Hoe gaan dit met die verkope daarvan en was dit nie moeilik om ‘n uitgewer te kry vir so ‘m omstrede boek in Afrikaans nie?

Die boek vaar verrassend goed. Die eerste druk is uitverkoop en Protea is besig met ‘n tweede druk. Die uitgewer, Nicol Stassen, het besondere moed gehad om hierdie boek uit te gee. En hy is reg bewys omdat die soort e-posse wat ek van mense ontvang wat groot waardering vir die bevrydende gedagtes en blik op die wetenskaplike werkwyse het, juis toon dat daar onder Afrikaanse mense ‘n groot behoeftes is om van die kettings van godsdiens bevry te word. Die boek maak mense se oë oop vir ‘n werklikheid waaraan hulle nie voorheen in hul lewe blootgestel is nie.

Die wetenskap werk deurgaans met onsekerhede. Geld dit nie maar ook ten opsigte van geloof nie?

Ja, maar die wetenskap erken sy onsekerheid, korrigeer sy foute deur herhaaldelike ondersoek en verifiëring van bestaande teorieë. Die wese van die wetenskap en sy krag is dat dit onseker is en nie met absolute reëls werk nie. Kan godsdiens dit sê? Nee, geensins nie. Gelowiges glo absoluut, en dit nogal in ‘n boek wat byna 2 000 jaar gelede geskryf is deur onwetenskaplike mense. En steeds klou hulle vas aan die geloof in iets waarvoor daar geen enkele bewys bestaan nie.

• George Claasen se blog kan besoek word by Prometheus Unbound

<< Terug
 
Die dag toe God weggeraak het....
Nuwe fossiel laat kreasioniste met eier in die gesig
Eugene Terreblanche vermoor
Bybelse potholes
Ek word bang
NG Kerk se moderatuur sê Kletskerk is 'n verleentheid
NG Kerk wil saambly weer bekyk
Is wetenskaplike studie sonde?
Ateïstiese dominee glo in 'n "God wat nie bestaan"
KLETSKERK VIR BEGINNERS


Skryf in op ons nuusbrief.
Name:
Email:
Laai AF
Kletskerk

Bemark jou Blad ook
klasifiseerd
Kontak
South Africa's Top Sites


Powered by phpBB © 2000, 2002, 2005, 2007 phpBB Group
Style edited by Lee for phpBB3