Die evolusieteorie maak voorspellings As daardie voorspellings verkeerd is, dan is die evolusieteorie in die sop. Kreasionisme is nie in dieselfde situasie nie, want daar is altyd ‘n gerieflike ontsnaproete: die anatomie is soos dit is omdat die ontwerper dit so wou gehad het. Dit is glad nie ‘n verklaring nie. En as die anatomie anders was, dan is dit omdat die ontwerper dit anders sou wou gehad het – wat eweneens geen verklaring is nie. (Alhoewel kreasioniste ons natuurlik al wysmaak dat dit die perfekte verklaring van alles is.)
In sy respons op my artikel oor die embriologie en anatomie van die rekurrente laringeale senuwee en die spermatiese koord en testis vra Philip du Toit: “…op grond van watter objektiewe kriteria word aangeneem dat dit nie ‘n goeie ontwerp is nie?”
Ek het net een keer vlugtig genoem dat die ontwerpe suboptimaal is en nie daaroor uitgebrei nie omdat meeste van my artikel gerig was op ‘n verduideliking van hoe ons evolusionêre verlede hierdie anatomie kan verklaar. Die suboptimale aard van die “ontwerp” was ‘n blote agtergrond-opmerking. Du Toit skryf voorts dat ek “…die fisiologie (my kursivering) van die laringeale senuwees (verbind) met die mens se beweerde evolusionêre afstamming…” In my artikel het ek kortliks enkele aspekte van die embriologie en anatomievan die rekurrente laringeale senuwee en van die testis en spermatiese koord bespreek. Ek het nie ‘n dooie woord oor fisiologie van die rekurrente laringeale senuwee, testis of spermatiese koord gesê nie. Daar is ‘n verskil tussen embriologie en anatomie aan die een kant en fisiologie aan die ander, maar kom ons laat dit maar daar.
Aangesien du Toit dan self vra vir “objektiewe kriteria” waarom “aangeneem” word dat die betrokke strukture swak ontwerp is, kom ons bekyk die saak van nader – en geen aannames sal gemaak word nie, slegs harde feite sal gestel word.
Die anatomie van die rekurrente laringeale senuwee, die spermatiese koord en plasing van die testes is nou nie juis voorbeelde van optimale ontwerp nie. Wanneer die oorsake van laringeale senuwee paralise bekyk word dan vind mens dat ongeveer een derde van gevalle die gevolg is van trauma, hetsy stomp trauma soos in ‘n motorongeluk of deur chirurgie. Vanselfsprekend is ‘n struktuur wat langer as nodig is meer geneig om beskadig te word.
Du Toit gee ‘n skakel na ‘n kreasionistiese webwerf waar ons die volgende lees: “There are branches of the RLN (rekurrente laringeale senuwee) going above and below the larynx (both branch off the vagus) that would allow some preservation of function if either one is severed.”
Wanneer een van die betrokke senuwees sy funksie verloor, is die stemband aan daardie kant verlam. Daar is nie “some preservation” nie, die kreasionistiese stelling is blote nonsens. Ons lees verder: “The RLN passes tightly under the aorta (the large, main artery coming from the left ventricle of the heart). Perhaps variation in the diameter of the aorta could alter the function of the RLN.”
Jawellnofine. And perhaps the moon is made of green cheese. Daar is geen aanduiding dat die pulsasies van die aorta enige rol speel in die funksie van die rekurrente laringeale senuwee nie. Die hoop (waarvoor daar geen ondersteunende data bestaan nie) dat die pulsasies van die aorta te doen het met laringeale senuwee fisiologie is wensdenkery op sy beste – daar is geheel en al geen bewys daarvoor nie!
Die feit dat die testes na buite die liggaam migreer en die ovaria nie het tot gevolg dat mans baie meer geneig is om inguinale breuke te ontwikkel – trouens, dit is een van die algemeenste operasies wat op mans uitgevoer word. Dieselfde afwyking kom selde by vroue voor – 97 uit elke 100 operasies wat inguinale breuke herstel word op mans uitgevoer. Om die abdominale holte sodanig te “ontwerp” dat daar ‘n swak plek in die wand is waardeur derms na buite kan uitpeul is beslis nie optimale beplanning nie.
Die stelling: “…dat wetenskaplikes nog lank nie die werking en fisiologiese funksies van die liggaam volkome verstaan nie” is ‘n powere poging om te probeer verbloem dat kreasioniste geen feitelike argumente kan aanvoer om die anatomie van hierdie strukture op ‘n wetenskaplike wyse te verklaar nie.
Volgens du Toit is dit kwansuis meer “sinvol” om die anatomie van bogenoemde strukture aan intelligente ontwerp toe te skryf as aan ons evolusionêre verlede. Soos reeds aangetoon is daar niks besonder “intelligent” aan daardie anatomie nie. By die vroeë embrio is die mens en vis se anatomie eenders, daarna loop elkeen sy eie paadjie en is die rangskikking van die rekurrente laringeale senuwee sowel as die testes en buikwand die gevolg van ons evolusionêre verlede. Die evolusieteorie kan hierdie rangskikking verklaar, kreasionisme nie. Waarom sou die menslike testes hoog op in die liggaam ontstaan, soos wat by visse gevind word, en dan afwaarts migreer as daar nie ‘n evolusionêre verwantskap tussen ons en visse is nie? Waarom maak die rekurrente laringeale senuwees eers ‘n draai in die borskas voordat dit strukture in die keel innerveer as dit nie was omdat die menslike anatomie homself tydens embrionale ontwikkeling eers moet loswikkel uit ‘n anatomiese rangskikking identies aan die van visse nie?
Du Toit se stellings oor Haeckel se embrios is net so ver van die kol soos die res van sy artikel, maar ek sal dit vir eers daar laat.
By wyse van verandering is du Toit darem korrek wanneer hy skryf dat menslike embrios nooit kieue het of suurstof uit water opneem nie – maar nie ek of enige ander evolusionis het dit ooit gesê nie. Kieusplete of -boë, “gill slits” of “gill arches”, brangiale splete of boë sowel as faringeale boë en -splete is almal erkende terme wat algemeen gebruik word. Elke bioloog weet na watter anatomiese strukture dit verwys en ook dat daar geen implikasie is dat menslike embrios beskik oor kieue wat suurstof uit water onttrek nie.
‘n Brangiale sist is ‘n anatomiese afwyking wat van tyd tot tyd by veral kinders gevind word – weereens ‘n aanduiding van ons evolusionêre verlede – as dit nie daarvoor was nie, sou so ‘n aandoening nie bestaan het nie. Wat is die oorsprong van die woord “brangiaal?” Dit is afgelei van die Griekse woord vir kieu – en gee aan ons ’n uitstekende aanduiding van die anatomie wat sowel vis- as menslike embrios op ‘n vroeë stadium van hul ontwikkeling deel. Die ou embrioloë en patoloë wat hierdie naam aan die betrokke sist gegee het, was goed bekend met die embriologie van die menslike en vis-embrio’s – vandaar die naam. Anders as hedendaagse kreasioniste was hulle nie verknog aan ‘n uitgediende sienswyse van menslike oorsprong nie.
Du Toit se beswaar oor kieuboë is bloot ‘n desperate poging om die aandag af te lei van kreasionistiese onvermoë om ‘n verklaring vir bogenoemde verskynsels te bied. Die evolusieteorie is geensins afhanklik van Haeckel se sketse nie en om te beweer dat “...embrio’s in der waarheid heeltemal verskillend lyk van die voorstellings in die tekeninge van Haeckel” is blote onsin. Dit is interessant om daarop te let dat kreasioniste voortdurend hamer op die sogenaamde “onakkuraatheid” van Haeckel se sketse maar self nie in staat is om foto’s of tekeninge te toon waar daar duidelike verskille bestaan tussen vroeë embrio’s van verskillende organismes by dieselfde stadium van ontwikkeling nie. Nog minder verskaf hulle sketse wat toon hoe radikaal verkeerd Haeckel se tekeninge dan nou eintlik is. Hierdie is maar net nog ‘n voorbeeld van hoe kreasionistiese propaganda die waarheid op ‘n siniese wyse verdraai.
Du Toit skryf dat, by die menslike embrio: “…die rugstring vinniger ontwikkel en ‘n kurwe vorm om die res van die liggaam, die res van die liggaam (sic) as’t ware ineen-frommel en dit laat lyk asof die embrio ‘n “stert” het.” As so iets by die menslike embrio gebeur dan gebeur dit ook by ander soogdier-embrio’s. Mens moet jouself dus afvra: het ‘n kat-embrio ‘n stert? Indien nie, hoe kry ‘n kat dan sy stert? En indien wel, wat is dit dan wat aan ‘n kat-embrio gesien word wat so baie na ‘n stert lyk, en waarom het die menslike embrio ook daardie struktuur?
Die webwerf waarna du Toit ‘n skakel gee verkondig ‘n blatante leuen wanneer dit vertel dat menslike embrio’s nie ‘n stert het nie en dit toon eintlik maar net iets wat evolusioniste al lankal weet: dat kreasioniste begin lieg wanneer hulle nie meer feitelike argumente kan opper nie.
Tussen vier en vyf weke swangerskapsduurte besit menslike embrio’s ‘n post-anale stert wat bestaan uit tien tot twaalf ontwikkelende werwels. Voorts bevat die stert ook ‘n spinaalkoord, spiere, bloedvate en senuweevesels en is dit bedek met embrionale vel. Meeste werwels word geresorbeer en slegs ‘n paar rudimente bly oor in die vorm van die coccyx. Figuur 1 toon embrio’s van ‘n kat (links) en ‘n mens. Die menslike stert (en die van die kat) is duidelik sigbaar.
Fig. 1
Om te beweer dat die rugstring kwansuis vinniger ontwikkel as die res van die liggaam en dan lyk soos ‘n stert is desperate wensdenkery, indien nie doodgewone leuens nie. Die menslike embrio het sewe nekwerwels, twaalf torakale werwels, vyf lumbale werwels, vyf sakrale werwels (wat gedurende die laat kinderjare saamsmelt om ‘n eenheid bekend as die sakrum te vorm) en tien tot twaalf kaudale of stertwerwels waarvan meeste geresorbeer word. Die bekkengordel is geheg aan die sakrale werwels en kan nie boontoe of ondertoe (na die lumbale of kaudale werwels) skuif nie. Distaal tot die bekkengordel is die tien tot twaalf kaudale (stert) werwels. Maak nie saak hoe vinnig daardie werwelkolom groei nie, die bekkengordel bly geheg aan die sakrale werwels en alles wat distaal daartoe sigbaar is, is embrionale stert. Figuur 2 gee nog ‘n voorstelling van die embrionale stert – sien veral afbeeldings 13, 14, 15 en 16.
Fig. 2
Ooglopend het du Toit nog nooit ‘n menslike embrio in die relevante stadiums van ontwikkeling gesien nie. Sy standpunt herhinner my aan ‘n aflewering van die strokiesprent Non Sequitur: