Al wat die evolusieteorie ons vertel is dat die ontwerp beter moet wees as dié van die buurman en dat die anatomie afleibaar moet wees van die anatomie van voorgangers se oë, en in daardie opsig voldoen hierdie teorie in alle opsigte aan die betrokke vereistes, anders as wat van sogenaamde skeppings”wetenskap” gesê kan word, soos ons wel sal sien
In sy respons op die evolusie-artikels wat op Kletskerk verskyn het, maak Philip du Toit die volgende stelling: “So bv. het evolusioniste…vroeër ‘n argument daarvan gemaak dat die retina van die menslike oog nie optimaal ontwerp is nie, aangesien dit “verkeerdom bedraad” is. Wetenskaplikes het sedertdien ontdek dat die ontwerp van die retina juis is soos dit is om fotone te ontvang om die impulse na die brein te stuur. As dit nie so was nie, en die oog volgens “Darwinistiese spesifikasies” gebou was, sou die mens blind gewees het.”
Nou ja, daar het ons dit nou. Dankie tog dat ons nie blind is nie. Maar is du Toit se stellings korrek? Watter wetenskaplikes het hierdie opsienbare ontdekking gemaak? Is daar hoegenaamd enige “Darwinistiese spesifikasies” waaraan die oog se ontwerp a priori moet voldoen? Spesifiseer die evolusieteorie hoegenaamd die spesifieke anatomie van die soogdier (of enige ander organismes) se oog, behalwe om te sê dat daar ooreenstemmings moet wees met die oë van voorouers?
Kom ons stel so bietjie ondersoek in. Du Toit se eerste skakel, wat nie veel te sê het oor die oog nie, lei na ‘n tweede skakel – ‘n artikel deur Peter Gurney in die sogenaamde “eweknie-evalueerde” (in hierdie geval ‘n oxymoron as daar ooit een was!) Creation ex Nihilo Journal, ‘n publikasie van (raai wat) Answers in Genesis. Kom ons neem dit bietjie onder die loep.
Eers ‘n vinnige opsomming: vertebrate (soos ons) sowel as invertebrate soos seekatte en inkvisse besit kamera-oë, maar vertebrate verskil van die invertebrate hierbo genoem in die rangskikking van die fotoreseptore in die retina (netvlies) van die oog. Daar word dikwels geskryf dat die evolusieteorie die verklaring bied vir die ietwat suboptimale ontwerp van die vertebraat-oog en hierdie stelling is heeltemal reg (meer daaroor later): vertebrate se ligreseptore wys na die agterkant van die retina, weg van die inkomende lig, met senuwees en bloedvate wat tussen inkomende ligstrale en die fotoreseptore geleë is. Enige inkomende ligstraal moet dus eers deur die betrokke senuweeselle en bloedvate dring voordat dit die fotoreseptore kan aktiveer, soos gesien kan word in Figuur 1.
Hierdie rangskikking beteken natuurlik nie dat vertebraat-oë nutteloos is nie – mens kan maar net dink aan die gesigskerpte wat baie diere toon. Dit is nogtans en baie beslis nie die heel beste “ontwerp” waaraan mens kan dink as jy ‘n oog sou moes beplan nie en vertebraat-oë moes ‘n paar planne “bedink” om doeltreffend te kan funksioneer – planne wat nie by invertebrate aangetref word nie, soos in die volgende paragraaf te sien is.
Fig. 1
Om betekenisvolle gesigskerpte te verkry moet vertebrate lig fokus op ‘n klein deel van die retina, die fovea, waar bloedvate en senuvesels nie teenwoordig is nie. Hierdie area moet noodwendig klein wees as gevolg van die vereistes wat die retina stel met betrekking tot bloedvoorsiening. Voorts is die konstruksie van die vertebraat-retina sodanig dat die bloedvate en senuweevesels dwarsdeurdie retina moet loop, met ‘n gevolglike blinde kol waar geen beeld waargeneem kan word nie. Hierdie “agterstevoor” rangskikking van die vertebraat retina beteken dat vertebrate meer dikwels geneig is tot retinale loslatings as wesens met ander soort oë.
As geheel beskou beteken dit dat die rangskikking van die vertebraat-retina beslis ‘n sub-optimale ontwerp is.
Kom ons kyk nou na die oë van inkvisse en seekatte. Hul retinas is nie omgekeerd soos die van vertebrate nie. Dit beteken dat hul fotoreseptore na inkomende lig wys en dat die bloedvate en senuvesels aan die agterkant geleë is. Hulle besit nie ‘n blinde kol nie en het ‘n aansienlike gesigskerpte. Seekatte het ‘n struktuur ekwivalent aan die fovea van vertebrate, maar in hierdie geval word dit gevorm deur meer en/of langer fotoreseptore in ‘n gegewe area in te pas en omdat dit nie nodig is om bloedvate en senuvesels deur ‘n gat in die retina te stuur nie kan dit ‘n groter fovea en dus meer gesigskerpte hê.
Inkvisse sien beter as katte omdat hul retinas nie “omgekeer” is nie en hul gesigskerpte strek oor die hele retina, anders as vertebrate waar hierdie gesigskerpte tot die klein fovea beperk is.
Die vertebraat retina is ‘n uitstekende voorbeeld van “ontwerp” wat op ‘n kom-ons-gebruik-wat-ons-het beginsel gebaseer is - oftewel, evolusie moet gebruik maak van wat beskikbaar is en kan nie bou op ideale strukture wat nie voorheen bestaan het nie. Mens kan dit vergelyk met ‘n agterplaas-werktuigkundige wat ‘n enjin herstel met bloudraad, ‘n hamer, ‘n tang en ‘n paar skroewe en nie op gesofistikeerde elektronika kan staatmaak nie omdat die enjin nie oor sulke gesofistikeerde elektronika beskik nie.
Die vertebraat retina lyk soos dit lyk omdat hierdie struktuur eerste ontstaan het in klein chordata, voorgangers van vertebrate, waar sulke strukture noodwendig minder gesofistikeerde was en gesigskerpte dus ook minder was. As gevolg van die sukses van hierdie “ontwerp”, wat beslis aan daardie organismes ‘n reproduktiewe voordeel besorg het, is alle hedendaagse vertebrate steeds “opgeskeep” met hierdie oog-ontwerp.
Geen evolusionis sal voorgee dat die vertebraat-oog nie ten minste redelik effektief funksioneer nie, maar dit is so duidelik soos daglig dat beter ontwerpe bestaan. Hierdie feit irriteer kreasioniste geweldig en hulle voel dus geroepe om argumente te fabriseer wat die suboptimale ontwerp beter laat lyk. Kom ons beskou hul standpunt in meer detail.
Soos gesien kan word in Fig. 1, is daar ‘n laag pigmentselle (die choroiëd) onder die fotoreseptore van die vertebraat-oog. Hierdie laag selle absorbeer lig wat nie deur die fotoreseptore opgevang word nie en wat mag terug reflekteer en die beeldskerpte affekteer.
Die retinas van landlewende vertebrate ontvang heelwat lig en as daar genoeg hitte in die oog geproduseer word, kan die retina beskadig word. Die skakel wat deur du Toit verskaf word skep egter die indruk dat die lig wat op die retina self gefokus word die hitte produseer en dat die hoë bloedvloei van die choroiëd hierdie hitte wegvoer en sodoende die fotoreseptore beskerm. Volgens kreasioniste is die rangskikking waar die sensitiewe, kwesbare fotoreseptore reg langs die choroiëd geleë is die optimale situasie.
Maar is dit so? Gurney (‘n skakel van du Toit) gee twee verwysings na artikels deur Parver et al. wat die bloedvloei van die choroiëd bespreek sonder om enigsins Gurney of du Toit se standpunt te ondersteun, maar hy rep niks van twee andernavorsingsartikels wat presies die teenoorgestelde bewys nie! (LM Parver, CR Auker en DO Carpenter, Retina 1982, 2(2), 117-120 en LM Parver, Eye 1991, 5, 181-5.) Dis moeilik om te glo dat Gurney onbewus is van hierdie artikels – en dan beweer du Toit dat dit evolusioniste is wat lieg!
By die lees van hierdie twee artikels kom mens tot ‘n heeltemal ander gevolgtrekking: 25-30% van die lig wat die oog binnegaan word deur die choroiëd self geabsorbeer en daardie energie word dan weer deur die choroiëd as hitte uitgestraal! Oftewel, die sensitiewe, kwesbare fotoreseptore, wat maklik deur hitte beskadig word, is geleë reg langs die struktuur wat hitte genereer! Dit lyk nie juis na ‘n effektiewe ontwerp nie!
Kreasioniste is korrek wanneer hulle sê dat die weefsel in en onder die pigmentlaag ‘n ryk bloedvoorsiening moet hê om die choroiëd te kan afkoel, maar van daardie punt af begin hul argument so effe ontspoor.
Dit is nie die “omgekeerde” ontwerp van die menslike retina wat die vinnige bloedvloei moontlik maak nie, dit is juis hierdie ontwerp wat vinnige bloedvloei vereis sodat die weefsel afgekoel kan word!
Visse, ons oervoorouers, het ook “omgekeerde” retinas, soos mens dan ook volgens die evolusieteorie sou verwag. Dan moet mens vra waarom ‘n ontwerper toegelaat het dat visse met sulke oë opgeskeep moet sit aangesien daar by hulle geen sprake is van hitte wat deur die choroiëd weggevoer moet word nie? Die rede is eenvoudig: ons oë het oor die eone heen uit visoë ontstaan. Mens moet dus wonder waarom ‘n ontwerper ‘n oog vir landlewende vertebrate gemaak het wat hoë bloedvloei vereis na ‘n stukkie weefsel wat dit in elk geval nie sou benodig het indien die oog ordentlik ontwerp was nie. Du Toit vertel graag dat die ontwerper dieselfde beginsels gebruik het vir verwante organismes. Soogdiere en visse kan nou nie juis as baie na verwante organismes bestempel word nie, dus moet mens vra waarom die oë van visse en mense dieselfde bouplan het as dit nie vir gemeenskaplike afstamming is nie.
As “omgekeerde” retinas dan so belangrik is vir diere wat met fel sonlig te doen het moet mens vra waarom landlewende gastropoda, wat net soos ons oor kamera-oë beskik, nie ‘n “omgekeerde” retina het nie, maar een wat op die “regte” manier bedraad is. Seekatte en landlewende gastropoda het nie die mees sensitiewe deel van die retina teenaan die bron van hitte nie en benodig dus nie so ‘n hoë bloedvloei nie. Voorts is daar ook nie lae ganglionselle en bloedvate tussen die fotoreseptore en inkomende lig nie.
Dit is duidelik dat die vertebraat-oog goed werk, maar om te ontken dat die anatomie daarvan die gevolg is van aanpassings wat deur eone se evolusie gemaak is, is doodgewoon onsinnig.