Waarom sou die reukgene van soogdiere duidelike ooreenkomste toon met die ooreenstemmende gene in visse (visse is mos nie deel van die diereryk nie!) as dit nie vir evolusie is nie. En waarom beskou kreasioniste dit as “evolusionêre bevooroordeeldheid” en hulle eie opinie nie as kreasionistiese bevooroordeeldheid nie?
Ter ondersteuning kan evolusioniste wys na die allesomvattende geheelbeeld wat geskep word deur genetika, anatomie, embriologie en paleontologie – watter wetenskaplike ondersteuning kan kreasioniste toon? Die skeppingsmite? Ongelukkig tel dit nie as natuurwetenskap nie.
Philip Du Toit se reaksie op “Fossiele in ons Liggame, Deel II” bevat verskeie mistastings. Hy skryf onder andere: “…voorbeelde in die diereryk en visse...” Visse is deel van die diereryk! Dis soos om te sê: “Voorbeelde in die diereryk en honde…”
In respons op die bespreking van reukgene in mense en elders in die diereryk (wat natuurlik visse insluit), skryf hy: “Ooreenkomste in gene tussen spesies is op sigself geen bewys van evolusie nie, maar ‘n afleiding wat gemaak word op grond van evolusionêre bevooroordeeldheid.”
Soos baie duidelik genoem in die tweede aflewering van “Fossiele in ons Liggame” besit die waterlewende soogdiere walvisse en dolfyne reukgene wat gespesialiseer was om reuke in lug waar te neem – maar hierdie gene is nutteloos omdat hierdie soogdiere nie meer hul neuskanale gebruik om reuke op te spoor nie en ook omdat die gene hul funksie verloor het. Wat anders bewys dit as dat dolfyne en walvisse eens op ‘n tyd landlewende diere was – so nie, waarom het hulle, as waterlewende diere, dan reukgene wat, toe daardie gene nog funksioneel was, net in lug kon funksioneer? Hoe verklaar kreasioniste hierdie verskynsel? Die enigste bevooroordeeldheid hier is die van du Toit en sy mede-kreasioniste wat desperate eierdanse uitvoer om sulke feite te probeer ontken. Al “argument” wat hulle eintlik maar kan monster is om evolusioniste as bevooroordeeld te bestempel. Van rasionele, feitelik gebaseerde argumente of ondersteunende data is daar geen sprake nie.
Du Toit beweer dat bogenoemde afleiding nie op deduktiewe redenasie geskoei is nie omdat daar kwansuis nie eksperimenteel waargeneem is dat bepaalde gene oorblyfsels is van evolusie nie.
Ons het nou al gesien dat du Toit so ‘n skewe beeld van die beoefening van die natuurwetenskappe het dat hy deduksie as die enigste aanvaarbare metode beskou, terwyl deduksie in werklikheid ‘n baie klein rol te speel het buite wiskunde en formele logika. Hy aanbid deduksie omdat hy hoop dat dit vir hom ‘n sleutelgat sal gee waardeur hy kan ontsnap wanneer evolusionêre wetenskap hom begin vasknyp, en ons weet ook dat hy as gevolg daarvan die rol wat induksie in die natuurwetenskappe speel totaal verkeerd verstaan. Hy skryf: “…sekere afleidings is gemaak op grond van bepaalde ooreenkomste of bepaalde patrone” en bestempel dit as induksie. Mens moet dan natuurlik vra op grond van watter ooreenkomste of patrone kreasionistiese “argumente” geskoei is. Die antwoord is eenvoudig: daar is geen sulke ooreenkomste of patrone nie! Soos hy self geskryf het, aanvaar kreasionistiese pseudowetenskaplikes maar net dat sus en so die geval is sonder om deduksie, induksie of enige ander
“-duksie” te gebruik!
Du Toit skryf voorts: “Dit nie so eenvoudig is om net te sê dat sekere gene geen funksie…meer het nie. Die wetenskap beskik nie oor genoeg inligting…om sulke afleidings tot onomwonde feite te verhef nie.”
Dit is natuurlik so dat nie alle van die baie gene wat tans as pseudogene beskou word onomwonde as nonfunksioneel verklaar kan word nie, maar dan is dit bloot omdat die betrokke gene nog nie genoegsaam ondersoek is nie. Die non-funksionaliteit van verreweg die meerderheid van pseudogene wat ondersoek is, is egter al vasgestel, en reuk-pseudogene is geen uitsondering nie: daar is geen (pun intended!) sprake van enige oorblywende reukfunksie in daardie gene nie! Daardie gene is ondubbelsinnig en sonder enige twyfel nonfunskioneel! Trouens, navorsing oor hierdie gene het ‘n Nobelprys aan die betrokke wetenskaplikes besorg.
Du Toit se stelling dat die betrokke gene nie noodwendig nonfunksioneel is nie laat mens wonder watter funksie hulle dan kan hê, aangesien hulle duidelik nie meer geskik is vir die waarneming van reuke nie. Het hulle dan sodanig verander dat hulle nou ander funksie(s) het as om reuke waar te neem? So ‘n toedrag van sake noem mens evolusie!
Die bewering dat ooreenkomste tussen gene by verskillende spesies nie ‘n probleem vir skeppings “wetenskaplikes” is nie omdat daar “…aanvaar (word) dat God verskillende bloudrukke gebruik het en dit aangepas het vir verskillende spesies” en dat dit “…volgens die skeppings-“wetenskaplike teorie”…verwag en voorspel (kan word)” is doodgewoon onsinnig. Om watter rede(s) sal ‘n skepper nonfunksionele gene wat duidelike evolusionêre verwantskappe toon by verskillende spesies inbou? Is du Toit se stellings induktief of deduktief? Nee, dis nie een van die twee nie – dis wensdenkery! Op grond waarvan aanvaar skeppings”wetenskaplikes” hul hersenskim?
Want sien, bogenoemde is nie al gene wat mens in hierdie opsig kan noem nie. Waarom besit voëls nonfunksionele gene vir tande as dit nie in hul voorouers (dinosouriërs) voorgekom het nie? Waarom het hoenders gene wat tot gevolg het dat hoender-embrio’s op een stadium twaalf stertwerwels besit terwyl pasgebore kuikens slegs vyf sulke werwels het? Waarom het die menslike embrio op een stadium ‘n stert? Hoe “voorspel” skeppings-“wetenskap” dit?
Slegs die evolusieteorie kan so ‘n toedrag van sake verklaar. Op grond waarvan beskryf du Toit sogenaamde skeppings-“wetenskaplikes” se sienswyses as “teorie” sonder dat daardie “teorie” oor enige empiriese onderbou beskik – per slot van rekening skryf hy self dat daar aanvaar word dat God verskillende bloudrukke gebruik het. Op watter empiriese fondamente rus hierdie aanvaarding? Dis nie hoe mens wetenskap praktiseer nie!
Kreasionisme? Hier is hul standpunt: Jy sê die gene stem ooreen? Wel, dan is dit omdat die skepper dit so wou gehad het, wat is jou probleem? Hoesê? Hulle stem nie ooreen nie? Ag askies tog, dan is dit omdat die skepper dit anders wou gehad het, sien. Ons bodder nie met sulke ou beuselagtigheidjies soos ondersteunende data nie, dis onnodig. Maklik, né?
Du Toit verskaf ook ‘n skakel na ‘n kreasionistiese bespreking van Tiktaalik roseae. In hierdie proses skiet hy homself sommer in beide voete, aangesien die skakel geen bespreking van hierdie oorgangsfossiel bevat nie maar slegs ‘n webbladsy waar geen woord oor Tiktaalik gerep word nie. Du Toit stel hiermee, sonder dat hy dit eers weet, die leuenagtigheid van kreasionistiese se sogenaamde “argumente” aan die kaak.
Waarom lei die skakel nie na ‘n bespreking nie hoor ek u vra? Die rede is eenvoudig: die bespreking (deur ene dr. David Menton, iemand met geheel en al geen agtergrond in paleontologie of anatomie nie) wat aanvanklik op die betrokke webbladsy aangebied is, was so deurspek van leuens en onkundige stellings dat dit van die internet onttrek is!
Nadat Menton se leuens blootgelê is, het sy aanvanklike bespreking geheimsinnig verdwyn en is dit deur ‘n ander een, by ‘n ander URL, vervang.
Kom ons kyk dan na wat Menton wel op die nuwe URL kwytraak. ‘n Ingeligte leser sal gou agterkom dat meeste van dieselfde kreasionistiese leuens maar net weer herhaal word. Ek sal Engelse terme gebruik omdat die wetenskaplike literatuur na die beste van my wete slegs in Engels beskikbaar is en omdat ek van geen ooreenstemmende Afrikaanse terme bewus is nie.
Menton skryf: “ All tetrapod limb bones and their attachments girdles are endochondral bones. In the case of fish, including Tiktaalik, the cleithrum and fin rays are dermal bones.”
Tiktaalik (‘n lob-vinnige vis) het wat die Engelse noem “jointed radials” – hierdie kenmerk word net gevind in lob-vinnige visse (lobe-finned fishes) en is endochondrale been!
Dit is interessant om te kyk na Menton se retoriek: hy skryf: “…Ahlberg and Clack concede (my beklemtoning) that in some respects Tiktaalik and Panderichthys are straightforward fishes…” (Panderichthys word deur paleontoloë beskou as een van die oorgangsvorme tussen visse en tetrapoda.) Menton probeer op ‘n subtiele wyse voorgee dat Ahlberg en Clack so half teensinnig moet erken dat Tiktaalik steeds ‘n vis is, terwyl hulle dit graag anders sou wou hê. Niks kan verder van die waarheid af wees nie, soos enigeen wat die betrokke artikel self gaan lees onmiddelik sal agterkom.
Ahlberg en Clack bespreek Tiktaalik se verlies van benige kieubedekkings (gill covers), sterker ribbe en die ontwikkeling van ‘n langer snoet en bring dit in verband met ‘n vermindering van watervloei oor die kieue, soos mens sou verwag wanneer so ‘n organisme in vlak water leef. Menton vra of dit nie slegs evolusionêre bevooroordeeldheid is nie en beweer dat daar geen bewyse is dat Tiktaalik ooit iets anders as ‘n waterlewende dier was nie.
‘n Vis met klein of geen kieubedekkings, buitengewoon sterk ribbe en die tipe benige pektorale skelet (met gewrigte) soos wat Tiktaalik het, is ooglopend nie ‘n organisme wat slegs onder die wateroppervlak kan leef nie. Geen “gewone” vis met so ‘n skelet is nog gevind nie – hierdie tipe anatomie (‘n skedel wat herhinner aan ‘n krokodil, met oë en neusgate wat boontoe gerig is) word aangetref by diere wat in staat is om op land te kan leef en/of soos ‘n krokodil net onder die oppervlak te beweeg, al is dit net tydelik.
Menton is ‘n baie subtiele leuenaar, soos gesien kan word wanneer mens kyk na sy stellings oor die sogenaamde Crossopterigiaanse visse: “Most evolutionists look to Crossopterygian fish for ancestors of tetrapods – even though unlike many living fish, none of these fish are known to be capable of either walking or breathing out of water.”
“Crossopterygian” is al vir die afgelope sowat twintig jaar ‘n uitgediende term en deur hierdie woord te gebruik sluit Menton doelbewus en op ‘n slinkse wyse longvisse ewe netjies uit – en dit is juis longvisse wat deur meeste paleontoloë beskou word as ‘n belangrike skakel! En dit is juis longvisse wat in staat is om buite water te kan “loop” en asem te haal!
Mens kan nog baie meer skryf oor Menton se leuens, maar ek sal volstaan met enkele opmerkings oor Tiktaalik self.
Paleontoloë het reeds geweet dat die oorgang vanaf visse na landlewende tetrapoda in die water plaasgevind het en nie in diere wat besig was om op droë land aan te pas nie. Tiktaalik is ‘n uitstekende voorbeeld hiervan: van buite is dit ‘n vis met vinne, skubbe en kieue, maar van binne lyk dit baie meer na ‘n lid van die tetrapoda – dit het naamlik die skeletale patroon van die tetrapoda, alhoewel natuurlik in primitiewe vorm, soos mens sou verwag. Dit besit ‘n voorarms en polsgewrig en ook ‘n nek, baie soos die van die vroeë amfibiërs. Die skedel is nie keëlvormig soos dié van visse nie, maar plat soos die van ‘n krokodil met ‘n neusgat aan elke kant. Die ribbe is versterk – iets wat nie by visse voorkom nie.
Nuwe ontdekkings in Pole mag die beskouing oor die oorgang tussen water- en landlewende diere verander, maar dit sal geensins die belang van Tiktaalik as ‘n voorbeeld van ‘n oorgangsfossiel verminder nie- die duidelike oorgangskenmerke kan nie ontken word nie. (Behalwe natuurlik as mens ‘n kreasionis is en dit noodwendig moet ontken…)