Tuisblad  Wie is ons?   Argief  Soek Artikels   Beknopte Index  Registreer  
Teken Aan   FAQ   Soek   Forum   Hulpstaaf   Foto's  

Artikels

“Leë kerke” – waarheid of klug?
Carla van der Spuy, 2008-11-23

Talle Christene beoefen deesdae hul geloof buite die kerk. Predikante onderskat hul lidmate se intelligensie, dogma laat mense koud en hulle wil nie voortdurend met die hel gedreig word nie. Dit is van die redes wat aangevoer word waarom talle tradisionele kerke deesdae leegloop.

Vrouekeur het gaan ondersoek instel na aanleiding van die jongste Amps-syfers van die Suid-Afrikaanse Reklamenavorsingstigting (Saarf) wat beweer dat kerkbywoning onder Suid-Afrikaners die afgelope jaar met 22% afgeneem het. Hieroor knik baie koppe instemmend, terwyl dit by ander weer ’n koor van protes uitlok omdat dit as “misleidend” beskou word.

Die vraag word egter gevra wat die definisie van “kerkbywoning” is. Gaan dit oor dienste in die tradisionele gebou met die hoë toring?

Nee, die omskrywing is veel wyer, meen kenners. En veel eenvoudiger. Die kerk is waar twee of meer in God se teenwoordigheid vergader, by selgroepe en waar Christene na werkplekke en kroeë uitbeweeg. Daar is ’n terugkeer na huiskerke soos die geval gedurende die vroeë jare van die Christendom was.

In een oorsese ondersoek toon nagenoeg 77% van die deelnemers dat dit nie noodsaaklik is om kerk toe te gaan om ‘n Christen te wees nie en dat hul kerkloosheid niks met hul geloof in God te doen het nie. Dit is bloot die ”tussenganger”, die kerk is, wat uitgediend geraak het.

Ander redes is dat hulle ontnugter met die kerk se standpunt ten opsigte van morele waardes is wat veral seksualiteit of aborsie betref, en dat hulle negatiewe ervarings in die kerk beleef het.

Jean Oosthuizen, moderator van die Kletskerk webtuiste bevestig dit. Hy sê: “Ek het byna daagliks te doen met mense wat ontnugter met georganiseerde godsdiens is. Sulke mense wil dikwels nie meer kerk toe gaan nie, maar dit beteken nie noodwendig dat hulle ophou om in God te glo nie. Van hulle is moeg vir die gedurige twis oor byvoorbeeld homoseksualiteit en kerkeenheid.”.

“Hulle soek ook ‘n veilige ruimte waar hulle hul spiritualiteit kan uitleef sonder veroordeling”, sê hy.

Ander redes wat vir kerkloosheid aangedui word is dat die dienste vervelig is, mense te lui is om kerk toe te gaan en dat kerkgaan in die verlede net ‘n afdwingbare gewoonte was.

Daar is egter bevind dat dit ‘n mite is dat mense van die kerk af wegbly omdat hulle ander bedrywighede op Sondae verkies.

In oorsese ondersoeke is bevind dat mense meer geneig is om kerk toe gaan as hul vriende kerkgangers is en as hulle as kinders eredienste saam met hul ouers bygewoon het.

In Australië is tussen 15 en 20% van die bevolking kerkgangers terwyl kerkbywoning ‘in Amerika daarenteen, as “sterk en stabiel” beskryf word met 40% van deelnemers aan jaarlike meningsopnames wat, wat aandui dat hulle in die voorafgaande sewe dae ‘n kerk of sinagoge besoek het. Australiese ondersoeke het getoon dat die mense wat die minste kerk toe gaan tot die jonger of manlike geslag behoort, geskei is, ‘n laer opvoedingspeil het en hulle in blouboordjieberoepe bevind.

Ds Anton van Zyl, stigter van die informele Kuierkerk op Hartbeespoort, wat nie lidmaatskap vereis nie en binne twee jaar na sy stigting ongekende groei getoon het, sê van die redes waarom mense hoofstroomkerke verlaat is die atmosfeer van die kerk, dit wat lidmaatskap hulle bied, die wyse waarop lidmaatskap mense bedreig, betekenislose tradisies en die gedwonge aard van kerke. “Mense wil ’n omvattende gevoelsbelewenis by die kerk hê en dit as ’n aangename plek ervaar. Hulle hou nie van die outoritêre aard van party kerke nie en voel bedreig daardeur.”

Ander probleme is die statiese aard van kerke se diensbaarheid aan gemeenskappe, die formele rigiede aard van eredienste, veroordeling en dreigemente met die hel.

“Mense wil bevry en nie veroordeel word nie”, sê hy. Hulle kan hul geloof ook by byvoorbeeld Bybelskole en radiostasies uitleef, as die kerk nie ‘n sinvolle aanbieding verskaf nie.”

Nog ‘n oorsaak aldus Ds Anton, is die aard en omvang van die kategeseproses. Baie jongmense voel na afloop hiervan dat hul kerkervaring nou afgehandel is. Nog probleme is die eksklusiewe aard van kerke deur middel van lidmaatskap, die spesifieke aard en karakter van kerke (rondom die gebou) en die dogmatiese aard van talle kerke met reëls en voorskrifte.

“Die kerk is ook nie altyd konsekwent nie, en dan is daar die oorbeklemtoning van enkele leerstellings terwyl ander nie beklemtoon word nie.” Nog redes waarom mense hulle by ander groepe en kerke aansluit, is dat hulle onvoorwaardelik aanvaar word, kan deelneem, erken word en ‘n meer verhalende aard van dienste ervaar.

Die bekende teoloog Prof Hennie Stander, waarnemende Hoof Departement Antieke Tale (Universiteit van Pretoria) asook deeltydse predikant in die NG Kerk Bonaero Park, glo van die oorsake dat minder mense kerk toe gaan, is dat die prediking nie aktueel of prakties genoeg is nie.

“Soms word slegs teologie en dogma verkondig, en nie ’n lewenswyse wat mense se lewe elke dag raak nie.”

Hy wys egter daarop dat dit gevaarlik is om sommer algemene afleidings of stellings oor kerkloosheid te maak.

“Ek is daarvan oortuig dat daar binne sekere streke en kerkgroepe in ons land wel mense is wat minder kerk toe gaan. Maar daar is beslis ook streke, kerkgroepe of gemeentes in besonder, waar mense baie meer gereeld kerk toe gaan.”

Hoewel dit dalk die geval is dat tradisionele kerke se kerkbywoning afneem, is daar baie vernuwende kerke waar die bywoning toeneem.

“Dit hang ook af hoe jy na ’n definisie van kerkbywoning kyk en hoe akkuraat dit is. Tel jy net Sondae se samekomste as kerkbywoning? Daar is talle gemeentes wat lewendige selgroepe het, en wat weeksaande byeenkom. Daar is ook mense wat gedurende die etensuur byeenkomste by hulle werk het.”

“Daar mense wat byvoorbeeld in restaurante byeenkom om oor geloofsake te gesels, “bikers” by terreine, of mense wat manne- of vrouekampe en Christelike sakeontbyte bywoon.”

“Persoonlik sou ek al hierdie samekomste as kerkbywoning beskou.”

Prof Hennie sê tradisioneel is ‘”kerk” as ’n sentrale plek gedefinieer waarheen mense op ’n Sondag moet kom. As jy nie op daardie sentrale plek is nie, is jy nie in die kerk nie. Vandag gaan dit nie meer daaroor om mense soos ’n magneet na ’n sentrale plek toe te trek nie, maar eerder om mense te laat uit beweeg.

Hy sê hoewel sekularisasie ’n tol in ons kerke geëis het en kerkbywoning nie meer die ”in-ding” is nie, is hy daarvan oortuig dat mense wat deesdae wel in die kerk betrokke is, veel meer effektief as in die verlede is.

Dr Isak Burger, president van die AGS Kerk, het ook ernstige bedenkinge oor die Ampssyfers. Hy sê: “Ek reis baie en ek dink ek het my vinger redelik op die pols wat die kerklike lewe in die land betref, maar myns insiens is ‘n afname van 22% binne een jaar doodeenvoudig onmoontlik. My mening is dat daar eerder ‘n styging in kerkbywoning is.”

“Die dienste van Angus Buchan vertel beslis ʼn storie. Ek het self die afgelope jaar groter skares mense in kerke as ooit vantevore gesien – onder meer 17 keer in NG Kerke.”

“Ons weet ook vir ‘n feit dat die kerk in die Derde Wêreld konteks dramatiese groei toon.”

Dr Aldert Brink, tot onlangs leraar by die NG Kerk Kuruman, meen die groeiende tendens van minder mense wat kerk toe gaan is ‘n teken van ons tyd om “rewolusionêr” eerder as “institusionêr” te wees.

Hy verwys na byeekomste waar vriende bymekaar kom en dit as eredienste beskou.

“Die institutsionele kerk het inderdaad ‘n funksie, maar wat die verbuikersmentaliteit betref, word ‘n kerk se sukses gemeet aan die aantal mense wat dit bywoon.”

“Formele dienste moet nie as die enigste vorm van kerk beskou word nie en Sondae is nie die enigste dag wat kerk gehou word nie.”

Hy is ‘n voorstaander van “markpleinteologie” naamlik dat die kerk na die werkplek uitgaan – en dit is wat hy nou doen.

Ds Isak du Plessis, jeugleraar van die NG Kerk Valleisig, sê die feit dat mense nie meer kerk toe gaan nie, kan as ‘n doodnormale tendens beskryf word. Dit het lankal reeds in Europa gebeur.

Hy sê die kerk as instelling het op ‘n manier verstar. Dit geld veral vir die Gereformeerde kerke.

“Mense het dalk die kerk afgeskryf, maar dit beteken nie dat hulle hul geloof afgeskryf het nie.”

Hy beskou predikante as die grootste sondebokke “omdat daar dikwels by hulle ‘n gebrek aan lewenskennis en respek vir hul lidmate in die verband is.”

Ds Jannie Pelser van die Rant en Dal NG Kerk en die Jesus Projek, sê die hedendaagse tyd word deur verskeidenheid gekenmerk. Baie mense besoek die e-kerk of kyk na kerkdienste op televisie. Dit beteken nie noodwendig dat hulle lou of onverskillig ten opsigte van hul geloof is nie.

Hy sê George Barna wat navorsing gedoen het oor die feit dat mense nie noodwendig hul godsdiens by eredienste uitleef nie en hulle nie meer in tradisionele strukture as die enigste uitdrukking van hul geestelike behoeftes gaan bevind nie, bevestig dit.

Ds Jannie sê ook tradisionele strukture moet nie as die enigste uitdrukking van geestelike behoeftes beskou word nie want die Bybel sê waar twee of drie mense bymekaar kom is die Here teenwoordig.

Die Nuwe Testamentiese gemeentes het in huiskerke bymekaar gekom en die groot staatskerke is eers in Konstantyn se tyd gestig.

Die kerk is vloeibaar en hoewel daar nuwe konsepte is, sal die tradisionele erediens altyd belangrik bly. Maar dit is nie die enigste uitdrukking nie.

“Mense is teleurgesteld, ontredderd en verward oor geloofsake.”

“Die kerk moet relevant wees. Ons moet nuut en vars dink. Ons moet nie in ‘n gemaksone beland nie want daar is uitdagings.”

“Die kerk moet daar gaan waar mense kuier.”

Wat die tradisionele kerk betref, is daar beheer en die voordele daaraan verbonde is dat ‘n mens dan iewers hoort. Daar is geestelike dissipline. “As ek as Christen anoniem is, raak ek nie kante nie en kan ek begin ronddryf.”

*Nog bronne: www.christiancentury.org, www.bapisttop1000.com www.kletskerk.co.za

Met erkenning aan Vrouekeur..

Gesles gerus HIER saam oor die onderwerp

<< Terug
 
Wié is die historiese Jesus?
KLETSKERK VIR BEGINNERS
"Werk" Christenskap?
Die NG Kerk leer "pynlike les" met Kletskerk
Ja, maar kan 'n mens dit "geloof" noem?
Die dag toe God weggeraak het....
Bybelse potholes
Ek word bang
Is wetenskaplike studie sonde?
Eensaamheid en gode


Skryf in op ons nuusbrief.
Name:
Email:

klasifiseerd

Kontak

South Africa's Top Sites



Powered by phpBB © 2000, 2002, 2005, 2007 phpBB Group
Style edited by Lee for phpBB3