Tuisblad  Wie is ons?   Argief  Soek Artikels   Beknopte Index  Registreer  
Teken Aan   FAQ   Soek   Forum   Hulpstaaf   Foto's  

Artikels

Evolusieteorie is veel meer as ‘n duiwelse komplot
Leon Retief, 2009-02-22

“Well, it’s a theory, it is a scientific theory only, and it has in recent years been challenged in the world of science and is not yet believed in the scientific community to be as infallible as it was once believed.” Aldus Ronald Reagan oor die evolusieteorie tydens sy verkiesingsveldtog in 1980.

Kreasioniste gebruik steeds sulke retoriek 200 jaar na Charles Darwin se geboorte en 150 jaar na die publikasie van sy On the Origin of Species in ‘n poging om hierdie teorie te laat lyk na sommer maar net nog ‘n duiwelse komplot wat hul literalistiese interpretasie van Genesis 1 ondergrawe. So half asof evolusionêre bioloë verleë moet voel oor die status van hul vakgebied as ‘n blote teorie, iets sonder enige betekenisvolle empiriese onderbou. Niks kan verder van die waarheid wees nie. In die volksmond mag “teorie” wel die mindere status hê van ‘n blote idee of vermoede, ‘n spesmaas wat nog bevestig moet word. In die natuurwetenskappe het die woord egter ‘n heeltemal ander betekenis : dit is ‘n gedagtekonstruk wat op ‘n intern samehangende wyse ‘n aantal feite op ‘n verklarende wyse saambind en in die proses ook sekere voorspellings maak.

‘n Teorie moet dus getoets kan word aan die hand van wat dit voorspel – anders kan dit nie ‘n teorie genoem word nie. ‘n Natuurwetenskaplike teorie wat nie getoets kan word nie kan uit die aard van die saak nie as korrek of verkeerd bewys word nie.

Maak die evolusieteorie toetsbare voorspellings en is hierdie voorspellings korrek bewys? Beslis! Het kreasionisme al toetsbare voorspellings gegenereer wat korrek bewys is? Nie so dat mens dit sou agterkom nie. Kreasionisme besit nie ‘n samehangende teoretiese raamwerk wat kan verklaar waarom die biosfeer so daar uitsien nie en die enkele toetsbare voorspellings wat dit wel maak het jammerlik gefaal.

Chemiese reaksies vorm die onderliggende grondslag van lewe. Aangesien alle uitgestorwe en lewende wesens van ‘n gemeenskaplike oervoorouer afstam sou mens verwag dat eietydse lewende organismes tot ‘n groot mate dieselfde biochemiese fondamente sal toon, en dit is inderdaad die geval.

Polimere is belangrike verbindings in die instandhouding van lewe. Tienduisende verskillende organiese polimere is al in die laboratorium gesintetiseer, maar slegs drie tipes polimere word in die natuur aangetref : polinukleotiedes (DNS of RNS), polisakkariedes (suikers) en polipeptiedes (proteïne). Alle organismes gebruik dieselfde polinukleotied (in die vorm van DNS of RNS) as die basis vir die oordrag van genetiese informasie. Polinukleotiedes bestaan o.a. uit nukleosiedes, en alle organismes gebruik dieselfde vier nukleosiedes in hul DNA : deoksiadenosien, deoksitimidien, deoksisitidien en deoksiguanosien. Die evolusieteorie voorspel dat organismes met ‘n gemeenskaplike voorouer(s) hierdie eienskappe sal toon. Kreasionisme, daarenteen, kan nie so ‘n voorspelling maak nie, aangesien daar geen rede is waarom organismes wat elkeen afsonderlik deur middel van fiat kreasie tot stand gekom het dieselfde polimere moet gebruik nie.

Elke organisme bevat verskillende proteïne. Hierdie polimere bestaan uit aminosure, waarvan meer as 390 al gesintetiseer is. Proteïne in die plant- en diereryke bestaan egter uit net 22 aminosure, ‘n situasie wat mens sou verwag wanneer alle bestaande lewende organismes ‘n gemeenskaplike afstamming het.

Lewende organismes beskik oor ‘n meganisme of genetiese kode waarmee hul erflike eienskappe na hul nageslag oorgedra word. Hierdie kode, op enkele uitsonderings na dieselfde dwarsdeur die biosfeer, kodeer vir die aminosure waaruit proteïne opgebou word en bestaan uit die nukleotiedes (fosfaatesters van die nukleosiedes bo genoem) adenien (A), guanosien (G), timidien (T) en sitosien (C) vir DNS. In RNS word timidien vervang deur urasiel (U). Dwarsdeur die biosfeer kodeer UUU en UUC vir die aminosuur fenielalanien en AAA en AAG vir lisien, terwyl soortgelyke kodes vir die ander aminosure bestaan. Dit is presies wat mens sou verwag wanneer organismes ‘n gemeenskaplike afstamming deel, maar kreasionisme kan geen sodanige voorspelling maak nie. So ‘n kode word ‘n universele kode genoem en Hinegardner en Engelberg het reeds in 1963, voordat die kode uitgewerk is, voorspel dat dit universeel sal wees. Dit is ‘n prestasie wat beslis nie deur die kreasionisme nagedoen kan word nie.

Maar wat van die uitsonderings? Skep dit nie ‘n probleem vir die evolusieteorie nie? Allermins. In hul artikel skryf Hinegardner en Engelberg ook dat daar mindere variasies behoort te wees en voeg hulle by : “…if different codes do exist they should be associated with major taxonomic groups such as phyla or kingdoms that have their roots far in the past.”

Nog voordat hierdie variante kodes ontdek is het Francis Crick en Leslie Orgel in 1973 geskryf : “It is a little surprising that organisms with somewhat different codes do not coexist.”

Soos Hinegardner en Engelberg voorspel het, is die mindere variante inderdaad geassosieer met major taksonomiese groepe soos vertebrate teenoor plante teenoor eensellige organismes.

Beide van bogenoemde is voorbeelde van die korrekte voorspellings wat die evolusieteorie maak. Kreasionisme kan geen sodanige voorspellings maak nie aangesien enige situasie, hetsy ‘n universele kode of een wat uniek is aan elke organisme, by die kreasionistiese scenario sal inpas. One size fits all, soos die advertensie sê.

Omdat alle lewende en uitgestorwe organismes so ‘n gemeenskaplike stamboom deel kan hul anatomiese en fisiologiese eienskappe teruggevoer word na kenmerke wat deur die betrokke gemeenskaplike voorouer(s) besit is. Gevolglik voorspel die evolusieteorie dat alle lewende en uitgestorwe organismes taksonomies gerangskik kan word in ‘n sisteem wat anatomiese, embriologiese en fisiologiese eienskappe geordend en voorspelbaar beskryf en verduidelik op ‘n wyse wat geheel en al buite die kreasionisme se vermoë lê.

Wat sê die kreasionisme? Organismes is deur fiat kreasie geskape, hetsy almal tegelyk of deur verskillende tydperke, afhangende van watter kreasionis aan die woord is. Daar is geen sprake van enige samehangende teorie wat die klassifikasie, anatomie, fisiologie, embriologie, molekulêre genetika, paleontologie en verspreiding van organismes op ‘n verklarende wyse aanspreek nie. Al die organismes wat ons sien en wat al uitgesterf het, is/was maar net daar, so gemaak en so laat staan.

Linnaeus se binomiale klassifikasiesisteem was die eerste ernstige poging om die biosfeer te orden, maar dit het nie gepoog om enige verwantskappe tussen organismes aan te toon nie. Terwyl dit wel waardevol was omdat dit begin het om orde te skep in die biologie, was dit bloot ‘n vergestalting van hoe die natuur destyds beskou is : ‘n scala naturae wat organismes gerangskik het op die trappe van ‘n denkbeeldige leer, met die nederigste wurmpies by die basis en die mens, die toppunt van die skepping, bo-aan. Sommige illustrasies het selfs engele aangetoon wat bo die mens rondswewe.

Hierdie liniêre progressie van organismes is steeds vir meeste mense die versinnebeelding van evolusie. Niks kan verder van die waarheid wees nie, al hou kreasioniste hierdie karikatuuragtige beeld selfs vandag nog aan die publiek voor as die werklike aangesig van evolusie.

Na die publikasie van die Origin het die liniêre rangskikking plek gemaak vir meer komplekse stambome wat verwantskappe duideliker aangetoon het. Hierdie stambome was nie meer liniêr nie en het die vorm aangeneem van veelvuldige, struikvormige vertakkings wat die afstamming van organismes duidelik versinnebeeld.

Hedendaagse sienswyse oor verwantskappe tussen organismes maak gebruik van kladisme, ‘n konsep wat deur die Duitse entomoloog Willi Hennig (foto links) ontwikkel is. Hennig het besef dat elke organisme ‘n mosaiëk is van gevorderde (of afgeleide) eienskappe wat geërf is van ‘n onlangse voorganger sowel as van primitiewe kenmerke wat oorblyfsels is van ‘n oervoorouer(s). Mense se groot breins en regop postuur is gevorderde eienskappe terwyl die rangskikking van ons lugweë en slukderm weer ‘n primitiewe kenmerk is.

Die ouer klassifikasiesisteem het primitiewe en gevorderde (afgeleide) eienskappe deurmekaar gebruik; Hennig het daarop gewys dat alleenlik gedeelde afgeleide of
primitiewe eienskappe gebruik kan word om natuurlik verwante groepe te definieer. Hoe word kladisme gebruik om organismes te orden? Mense en sjimpansees is aan mekaar verwant omdat hulle eienskappe besit wat nie elders in die diereryk gevind word nie, soos byvoorbeeld opponerende duime en stereovisie, om net twee voorbeelde te noem.

‘n Groep wat mense, ape en honde insluit kan gedefinieer word deur gemeenskaplike karakters soos hare, sterte en melkkliere, wat net by soogdiere gevind word. Soogdiere en paddas kan gedefinieer word deur die teenwoordigheid van vier bene en longe, wat net by die tetrapoda aangetref word. Soogdiere en paddas is nader verwant aan ‘n snoek as aan ‘n lamprei of prikvis (lamprey) omdat hulle almal ‘n werwelkolom en kake besit.

Dis belangrik om daarop te let dat die besit van kake nie gebruik word om soogdiere as groep te definieer nie omdat dit ‘n primitiewe gedeelde kenmerk is – eienskappe is dus primitief of afgelei relatief tot die vlak waar dit die eerste keer verskyn. Melkkliere is wel ‘n afgeleide kenmerk ne kan vir hierdie doeleinde gebruik word.

Kladisme het tot gevolg gehad dat (om te vereenvoudig) groter klem gelê word op die oorerwing van kenmerke as op ‘n soektog na voorvaderlike taksa (oftewel organismes as geheel) wat oorsprong kon gegee het tot bestaande organismes. Die sogenaamde “vermiste skakel” waarvan ons so dikwels in kreasionistiese literatuur lees het dus bloot irrelevant geword. Deesdae praat wetenskaplikes van oorgangskenmerke wat gedeel word deur nabye verwante organismes met ‘n gemeenskaplike afstamming.

Wanneer wetenskaplikes praat van voorouers dan bedoel hulle dus ‘n fossiel wat al die nodige anatomiese kenmerke besit om oorsprong te kon gee aan ‘n organisme wat na dit voorkom.

Die besef dat organismes, lewend of uitgestorwe, gesamentlik ‘n genestelde geheel vorm is nie ‘n nuwe konsep nie, maar kladisme het bioloë in staat gestel om hierdie begrip tot ‘n grootse geheel te ontwikkel, ‘n struktuur wat, met ‘n skoonheid van sy eie, die ganse biosfeer oorspan.

‘n Voorbeeld van ‘n genestelde hiërargie (ook genoem filogenie of filogenetiese stamboom) word in Figuur 1 weergegee, met dank aan talkorigins. So ‘n genestelde hiërargie word ook ‘n kladogram genoem omdat dit met behulp van kladistiese beginsels opgestel is.

Figuur 1



Minder uitgebreide kladogramme wat die verwantskappe van net enkele organismes uitbeeld word ook algemeen gebruik, soos gesien kan word in Figure 2 en 3 (Dank aan UCLA)

Figuur 2



Figuur 3



Die enigste bekende proses wat genestelde hiërargiese stelsels in die diere- en planteryke tot gevolg kan hê is evolusie. Blote ooreenkomste tussen organismes is geen bewys nie omdat slegs ‘n vertakkende proses wat op gemeenskaplike afstamming berus so ‘n genesteldheid genereer. Die betroubaarheid van filogenetiese stambome kan statisties gekwantifiseer word om te bewys dat dit nie maar net ‘n wilde raaiskoot is nie. Statistiese analises toon dat die struktuur van filogenetiese stambome ‘n minder as 1% kans het om die gevolg van blote toeval te wees. Deur gedeelde afgeleide eienskappe te gebruik kan verwante organismes in byvoorbeeld ‘n genus geplaas word, verskeie genera kan in ‘n familie gegroepeer word, families kan in ‘n orde gerangskik word en so voorts.

Figuur 1 dien as voorbeeld : plante word geklassifiseer as vaskulêr of avaskulêr, dws of hulle floëem of xileem besit of nie. Die vaskulêre groep nestel twee ander subgroepe, te wete daardie plante wat sade produseer en daardie wat dit nie doen nie. Saadplante nestel weer die angiosperma (bedeksadiges) en die gymnosperma (naaksadiges) en die angiosperma nestel weer die enkellobbiges en die dubbellobbiges. Die evolusieteorie sal groot probleme ondervind as spesies gevind sou word wat kenmerke van verskillende genestelde groepe besit. Nonvaskulêre plante met blomme of sade, visse met plasentas of warmbloedige paddas sal die evolusieteorie beslis kelder. Sulke organismes bestaan egter nie, en wat meer is, die evolusieteorie verklaar waarom daar nie sulke gediertes gevind word nie.

‘n Kykie na die standaard filogenetiese stamboom soos weergegee in Fig. 1 toon dat die major taksonomiese groepe in daardie stamboom ongeveer 29 gesamentlike voorouers deel. Elke vertakkings (of node) tussen twee groepe in die stamboom verteenwoordig ‘n gesamentlike voorouer en die evolusieteorie maak dus ‘n eenvoudige en voor die hand liggende voorspelling : watter kenmerke hierdie gemeenskaplike voorouer moet besit.

Die stamboom toon dat voëls en reptiele na aan mekaar verwant is en ‘n gemeenskaplike voorouer moet dus eienskappe van beide besit : vere, tande, ‘n skouergewrig intermediêr tussen voëls en reptiele en so voorts. Nodeloos om te sê, die fossiel van so ‘n organisme is al gevind : Archaeopteryx. Talle ander oorgangsfossiele is ook al gevind, en elkeen besit die eienskappe wat deur die evolusieteorie vereis word. Geen paddafossiel met vere, perdfossiele met vlerke of olifante met gewebde voete bestaan nie en indien sulke fossiele ooit iewers uitgegrawe sou word sal dit beslis die evolusieteorie tot in sy fondamente skud. Ek verneem egter uit betroubare bronne dat paleontoloë nie snags wakker lê van bekommernis nie.

Die kreasionisme daarenteen kan geen sodanige voorspellings maak nie. ‘n Perdefossiel met vlerke? Geen probleem nie – dis maar so gemaak! Die biosfeer vorm ‘n grootse en bekoorlike geheel en die organisasie daarvan kan slegs deur die evolusieteorie verklaar word – ‘n teorie wat boonop spesifieke en toetsbare voorspellings maak oor wat mens in die natuur sal aantref. Kreasionisme is nie in staat tot enige voorspellings nie en of lewende organismes klassifiseerbaar of in ‘n staat van algehele chaos is, is vir daardie sienswyse om’t ewe.

(Hierdie is die eerste van 'n aantal artikels wat Leon Retief periodiek spesiaal vir Kletskerk sal skryf oor kwessies rakende die wetenskap)

<< Terug
 
Die dag toe God weggeraak het....
Nuwe fossiel laat kreasioniste met eier in die gesig
Eugene Terreblanche vermoor
Bybelse potholes
Ek word bang
NG Kerk se moderatuur sê Kletskerk is 'n verleentheid
NG Kerk wil saambly weer bekyk
Is wetenskaplike studie sonde?
Ateïstiese dominee glo in 'n "God wat nie bestaan"
KLETSKERK VIR BEGINNERS


Skryf in op ons nuusbrief.
Name:
Email:
Laai AF
Kletskerk

Bemark jou Blad ook
klasifiseerd
Kontak
South Africa's Top Sites


Powered by phpBB © 2000, 2002, 2005, 2007 phpBB Group
Style edited by Lee for phpBB3