Fossiele. Daardie oorblyfsels van lank reeds gestorwe plante en diere wat moeisaam, met hamertjies, fyn boortjies, kwassies, handvaardigheid en baie geduld bietjie vir bietjie verlos word uit die klip waarin dit gevange gehou sodat dit ons kan vertel hoe lewe op aarde verander het.
Fossiele word egter nie slegs in klippe gevind nie. Die ganse biosfeer wemel van lewende fossiele omdat die bouplanne van elke organisme as’t ware sy eie afkoms weerspieël. Elke organisme dra oorblyfsels van sy voorouers saam.
‘n Kykie na die fossielrekord toon dat die ouer rotslae fossiele bevat van organismes met koppe (bv visse), gevolg deur organismes met koppe en bene (bv reptiele) in jonger lae, dan diere met koppe, bene, hare en melkkliere (katte) terwyl ons in die jongste lae fossiele vind van organismes met koppe, hare en melkkliere wat op twee bene loop en opponerende duime het: mense.
Die bouplanne van al hierdie organismes het met verloop van tyd verandering getoon, maar die anatomiese kenmerke van voorgangers het nie sommer net verdwyn nie – dit is dikwels net gemodifiseer sodat oorblyfsels van voorouers steeds in die anatomie van elkeen van ons gevind word. Die voorkoms van Homo sapiens, van die kleinste tot die grootste, van die lelikste tot die mooiste, weerspieël ons verlede as vis, as reptiel en as primitiewe soogdier.
‘n Goeie voorbeeld is die anatomie van daardie senuwees wat die stembande van soogdiere innerveer (oftewel, van senuweevesels voorsien). Die linker- en regter vagussenuwees loop vanaf die brein deur die nek afwaarts om onder andere die hart en spysverteringskanaal te innerveer. Vanuit die vagussenuwees ontstaan die linker- en regter rekurrente laringeale senuwees na die stembande. Dit sou heeltemal redelik wees om te verwag dat die betrokke senuwees die kortste pad sou volg tussen die vagus en die stembande. Dit is egter nie die geval nie. Soos gesien kan word in Figuur 1 ontstaan die linkerkantste rekurrente senuwee eers in die borskas vanaf die vagus en maak dit ‘n lus rondom die aortaboog (net bokant die hart) voordat dit boontoe loop om die stembande te innerveer – laasgenoemde is geleë in die struktuur met die keep in die middel, heel bo-aan die skets. Die regterkantste rekurrente senuwee se verloop is darem so ietwat korter omdat dit net rondom die regter subklaviese arterie loop voordat dit weer na boontoe terugkeer. Soos almal weet is die stembande in die keel geleë en nie in die borskas nie. Dit is dus heeltemal onnodig dat die rekurrente senuwees eers in die borskas, naby die hart, ‘n draai gaan gooi voordat dit ‘n ommekeer maak om sy taak te verrig, naamlik om die stembande te innerveer.
Onthou dat, behalwe wanneer spesifiek anders vermeld, alle anatomiese afbeeldings voorgestel word asof dit van aangesig tot aangesig met die leser staan.
FIGUUR 1
Hierdie eienaardige rangskikking bring mee dat die linker rekurrente senuwee sewe keer langer is as wat mens sou verwag, met die gevolg dat hierdie senuwee by die kameelperd byna vier meter lank is – terwyl net 30 sentimeter voldoende sou wees!
Dit is natuurlik heeltemal redelik om te vra waarom die rekurrente laringeale senuwees van soogdiere so ‘n vreemde anatomie het, want dit is beslis nie optimale beplanning nie. ‘n Kykie na ons evolusionêre verlede verklaar die situasie.
Tydens embrionale ontwikkeling besit soogdier embrios kieuboë, net soos visse, en in vroeë soogdier-embrios is die voorganger van die rekurrente senuwee aan die sesde kieuboog geheg, soos wat ook die geval by visse is. Op daardie stadium is hierdie strukture diep in die nek en boonste deel van die liggaam geleë en daardie rangskikking word inderdaad steeds by visse aangetref, maar tydens die latere fases van menslike embriologie word die visagtige sirkulatoriese sisteem herrangskik sodat die aorta, wat ook deel was van die sesde kieuboog, terugbeweeg na die binnekant van die borskas. Omdat die aorta en die rekurrente senuwees saam-saam uit hierdie sesde kieuboog ontstaan het, het die aorta tydens sy terugbeweging beide rekurrente laringeale senuwees afgetrek en moes die linkerkantste een noodgedwonge ‘n lus maak rondom die aortaboog.
Kreasioniste kan seker argumenteer dat so ‘n ietwat eienaardige situasie doelbewus so geskep is - nie dat daar enige oortuigende bewyse daarvoor bestaan nie. Ons anatomiese verlede toon egter die werklike verklaring vir die verloop van die betrokke senuwees.
Die laringeale senuwees is maar net een voorbeeld van ons visagtige verlede. Menslike gonades se embrionale ontwikkeling begin op dieselfde plek as dié van visse visse: hoog op in die liggaamsholte, naby die hart.
Visse se gonades migreer nie, maar by menslike fetusse is die situasie anders.
Tydens ‘n vroulike fetus se ontwikkeling daal die ovaria totdat dit naby die uterus tot stilstand kom, maar die embrionale testes is nie met so ‘n kort reis tevrede nie – hulle migreer tot in die skrotum, waar hulle dan buite die liggaamsholte te lande kom.
En juis hier lê die probleem – omdat die testes in hierdie sakkie gaan sit moet hulle ‘n redelike lang pad afwaarts volg, en net soos in die geval met die rekurrente laringeale senuwee het dit ompaaie tot gevolg.
Testes produseer sperms, en daardie sperms moet die penis kan verlaat om nageslag te kan produseer. Dus moet daar ‘n verbinding tussen die testes en die penis wees : die spermatiese koord. Net soos die geval is met die rekurrente laringeale senuwee word die kortste pad nie gevolg nie, soos gesien kan word in figuur 2.
Figuur 2
Die spermatiese koord maak noodgedwonge ‘n lus rondom die ureters (die pypies wat urine van die niere na die blaas afvoer). Die regterkant van die afbeelding toon die ware toedrag van sake en die linkerkant hoe dit sou gelyk het as die spermatiese koord nie ‘n ompad moes loop nie. Was dit nie vir ons visvoorouers nie sou menslike testes nie so ‘n migrasie moes onderneem nie.
Die evolusieteorie verklaar hierdie en ander menslike anatomiese verskynsels aan die hand van die bouplanne van ons voorouers en hierdie verklarings is toetsbaar. Wat vertel die kreasionisme ons? Dis maar net so gemaak sien, en as dit anders was, nou ja wel, dan was dit maar net anders gemaak. Geen besondere rede daarvoor nie, dit kan nie getoets word nie, dis maar net soos dit is. One size fits all.