Honde drink melk, koffie en water. Ek het hulle al lemoensap aangebied, maar sonder sukses. Soos almal weet is lemoene ‘n ryk bron van vitamien C en iemand wat nie genoeg hiervan inneem nie kry skeurbuik. Honde kry nie hierdie siekte nie want anders as mense kan hulle hul eie vitamien C vervaardig.
Waarom is dit so? Die antwoord op hierdie oënskynlik eenvoudige vraag werp ‘n interessante lig op ons evolusionêre verlede.
Meeste soogdiere besit vyf funksionele ensieme wat gewone suikers gebruik om hierdie vitamien in die lewer te vervaardig. Ons het ook hierdie ensieme, waarom is ons dan van eksterne bronne afhanklik vir ons vitamien C? Die rede hiervoor is dat die geen wat kodeer vir een van die ensieme, te wete gulonolaktoon oksidase (GLO), defektief is - dit het soveel mutasies opgedoen dat dit nie meer sy funksie kan verrig nie, maar gelukkig het die mutasies plaasgevind toe ons voorgangers ‘n dieët met voldoende vitamien C kon volg en was daar dus geen noodlottige gevolge nie. Sulke defekte gene word pseudogene genoem.
Die implikasie hiervan, soos Kenneth Miller tereg opmerk, is dat ons almal ly aan ‘n genetiese siekte wat net behandel kan word deur genoegsame hoeveelhede vitamien C in te neem!
Kreasioniste argumenteer dat ons so geskape is met defekte geen en al, en dat een onkapabele geen nie bewys is van evolusie nie. As dit die waarheid, die volle waarheid en niks anders as die waarheid is dan sou hulle argument korrek gewees het. Die feit is egter dat dit nie net mense is wat wie se GLO-geen defektief is nie.
‘n Baie spesifieke groep primate deel hierdie “genetiese siekte” met Homo sapiens: oerangoetangs, gorillas, en sjimpansees. Primate bekend as prosimiane, wat nie so na aan die mens verwant is nie, het egter ‘n volledig funksionele GLO geen.
Die betekenis hiervan is eenvoudig: die GLO-geen van ‘n gemeenskaplike voorsaat van die mens, sjimpansees, oerangoetangs en gorillas het defektief geraak en ons het almal hierdie defekte geen geërf. Hierdie situasie pas netjies in by die evolusieteorie se voorspellings, aangesien dit lank reeds bekend is dat ons naaste familie onder die ander primate juis sjimpansees, oerangoetangs en gorillas is. Die DNS-samestelling van hierdie pseudogeen in mense, sjimpansees en oerangoetangs is bekend en soos die evolusieteorie voorspel, stem die samestelling die meeste ooreen in mense en sjimpansees, gevolg deur mense en oerangoetangs en dan mense en makake. Slegs evolusie kan hierdie toedrag van sake verklaar, aangesien so ‘n rangskikking nie per ongeluk kan gebeur nie. Behalwe om te sê “ons is almal so gemaak” kan kreasionisme geen verklaring bied nie.
Die GLO-geen is natuurlik nie die enigste genetiese fossiel wat ons saamdra nie – gegewe ons evolusionêre verlede sou dit snaaks wees as daar nie nog sulke fossiele in ons gene skuil nie.
Meeste mense weet dat ‘n protein genaamd hemoglobien verantwoordelik is vir die vervoer van suurstof na ons weefsels, maar dit is interessant om daarop te let dat verskillende tipes hemoglobienmolekules na vore tree tydens verskillende fases van ‘n individu se lewe – oftewel, nie net een tipe hemoglobien verrig bogenoemde funksie van voor geboorte tot die dood nie.
‘n Hemoglobienmolekuul bestaan uit twee molekules alfaglobien en twee molekules betaglobien. Vyf gene op chromosoom 16 kodeer vir betaglobien (Fig 1).
Die geen genommer Ɛ kodeer vir betaglobien in die embrio terwyl Gγ en Aγ in die fetus aktief is en δ en β hul werk in volwassenes doen. In die middel van hierdie vyf funksionele gene is ‘n pseudogeen, ψβ, wat as gevolg van ses mutasies buite aksie gestel is.
Alle mense besit hierdie pseudogeen en is dus afstammelinge van ‘n voorouer by wie hierdie geen vir die eerste keer ‘n mutasie ondergaan het, maar die mutasie kom nie net by mense voor nie – dieselfde pseudogeen word op dieselfde plek gevind by gorillas en sjimpansees. Wat meer is, die samestelling van hierdie pseudogeen is dieselfde by mense, sjimpansees en gorillas.
Daar is slegs een verklaring vir hierdie toedrag van sake: ons deel ‘n gemeenskaplike voorouer. Dit is geheel en al onmoontlik dat ses identiese mutasies onafhanklik van mekaar op dieselfde plekke in dieselfde geen sou ontstaan.
Die genome van mense, sjimpansees en gorillas wemel van soortgelyke ooreenstemmings in sowel funksionerende as nonfunksionele gene. Gesien die nabye verwantskap tussen mense aan die een kant en sjimpansees en gorillas aan die ander voorspel die evolusieteorie dat werkende gene tussen hierdie spesies sal ooreenstem – maar wat nog belangriker is, is dat nonfunksionerende gene oor sulke verstommende ooreenstemmings toon. Slegs die evolusieteorie kan hierdie stand van sake verklaar.
Sulke fossiele kom natuurlik nie net in die menslike genoom voor nie maar ook in die genome van ander organismes. Dit is algemeen bekend dat moderne voëls afstammelinge is van reptiele omdat verskeie anatomiese kenmerke, sowel as die fossielrekord, daarop dui. ‘n Genetiese fossiel is dan ook onlangs in die genoom van hoenders ontdek.
Moderne voëls het nie tande nie, alhoewel die Franse anatoom Etienne Geoffroy Saint-Hillaire al in die negentiende eeu opgemerk het dat papegaai-embrios klein knoppies op hul bekkies het, strukture wat hy gelyk gestel het aan rudimentêre tande. Sy waarnemings het egter in vergetelheid verval totdat Matthew Harris van die universiteit van Wisconsin onlangs tandjies opgemerk het by hoenderembrios waarop hy navorsing gedoen het.
Hierdie spesifieke tipe embrio, bekend as ‘n talpid-mutasie, is al meer as vyftig jaar gelede ontdek, maar daar was nie opgemerk dat dit oor tandjies beskik nie. Talpid-mutasies is noodlottig en sulke kuikentjies gaan in die eier dood na ‘n inkubasietydperk van sowat 18 dae. Gedurende hierdie tydperk smelt twee weefseltipes in hul bekkies saam om tandjies te vorm – dieselfde twee weefseltipes waaruit tande in soogdiere gevorm word.
Die navorsers van Wisconsin-universiteit het gewonder of normale hoenderkuikens ook tande kan maak en het kragte saamgesnoer met wetenskaplikes van Manchester. Hulle het inderdaad daarin geslaag om normale hoenderkuikens te “oorreed” om tande te vorm deur die gene wat hiervoor verantwoordelik was in die embrio “aan te skakel” – hierdie gene was vir die voorafgaande sowat 70 miljoen jaar steeds in die genoom teenwoordig, dormant maar andersins heeltemal funksioneel – dit was net afgeskakel. Dit is insiggewend om daarop te let dat hierdie hoendertande soos die tande van krokodille lyk – iets wat heeltemal inpas by voorspellings wat deur die evolusieteorie gemaak word.
Wat meer is, hierdie hoendertande is nie sommer enige tande nie: dit het dieselfde koniese vorm as krokodiltande, wat heeltemal sin maak as mens in ag neem dat hoenders en krokodille ‘n gemeenskaplike voorouer het in die vorm van die archosaurus.
Waarom sal hoenders gene ronddra wat kodeer vir tande wat hulle nie meer het nie? Daar is slegs een moontlike verklaring: voëls se reptiliaanse agtergrond soos beskryf deur die evolusieteorie.
Die vraag kan wyer gestel word: waarom sal verwante organismes gene en pseudogene besit wat soveel ooreenstemming toon as dit nie die gevolg van gemeenskaplike afstamming is nie? Slegs die evolusieteorie kan hierdie vraag beantwoord.