Tuisblad  Wie is ons?   Argief  Soek Artikels   Beknopte Index  Registreer  
Teken Aan   FAQ   Soek   Forum   Hulpstaaf   Foto's  

Artikels

Haeckel se embrios
Leon Retief, 2009-05-03

“Think back to your high school or college biology textbooks and you'll probably recall seeing a drawing commonly referred to as Haeckel's embryos. The purpose of the illustration is to show the similarities among vertebrates during embryonic development. There’s just one problem with the drawing – it’s a fraud!” (The Evangelical Outpost.) Soortgelyke uitasem beskuldigings is in vele kreasionistiese geskrifte, op die internet of elders, te lese. Daar word selfs beweer dat Haeckel verhoor en tronkstraf opgelê is.

Is daar enige waarheid in hierdie bewerings? ‘n Kykie na die geskiedenis van die gewraakte tekeninge, sommige waarvan in Fig. 1 afgebeeld word, toon dat hierdie stories sommer met ‘n hele sak sout geneem moet word.

Fig. 1

Die rye afbeeldings, van links na regs, beeld onderskeidelik embrios van ‘n vis, salmander, skilpad, hoender, vark, bees, haas en mens in verskillende stadia van ontwikkeling uit. (Uit Haeckel se Anthropogenie, 1874.)

Ernst Heinrich Phillip August Haeckel (1834-1919) het tereg roem verwerf as navorser, nie net in sy geboorteland nie maar ook in die res van Europa en die VSA. Benewens sy wetenskaplike talent was hy ook ‘n buitengewoon begaafde kunstenaar wat pragtige (en akkurate) afbeeldings gemaak het van talle organismes, insluitende dié wat hy self ontdek het (Fig. 2).

Fig. 2



Haeckel se afbeelding van die medusa Desmonema Annasethe,vernoem na sy geliefde eerste eggenote, Anna Sethe, wat na ‘n huwelik van slegs twee jaar oorlede is.

Daar bestaan ook heelwat olie- en waterverfskilderye van tonele wat hy tydens sy uitgebreide reise waargeneem het (Fig. 3). Tydens hierdie toere het hy duisende monsters van veral ongewerwelde diere versamel om hulle later in sy laboratorium te dissekteer en in detail te beskryf. Sy publikasies in hierdie verband word steeds deur navorsers gebruik en sy afbeeldings is gesog onder versamelaars van natuurwetenskaplike illustrasies.

Fig. 3



Haeckel was, om dit saggies te stel, nie ‘n stil, teruggetrokke persoon nie en het ander mense maklik die harnas ingejaag. Hierdie eienskap was ten dele verantwoordelik vir die hele debakel rondom sy embrio-sketse, wat gemaak is om sy sogenaamde ‘biogenetiese wet’ te verduidelik. Volgens hierdie wet is ontogenie (die verskillende stadia van die embrionale ontwikkeling van individue) ‘n weerspieëling van filogenie (die evolusionêre verwantskappe tussen verskillende groepe organismes). Die wetenskaplike wêreld van sy tyd het egter bra langtand gekou aan hierdie ‘wet’, wat liewer ‘n hipotese genoem moet word. Dit het nooit algemene steun geniet nie en as dit nie was vir die gefladder rondom sy embrio-sketse nie sou hierdie ‘wet’ deesdae slegs in die bladsye van stowwerige geskiedenisboeke geskuil het aangesien dit nie meer in sy geheel aanvaar word nie en hoogstens as ‘n algemene beginsel beskou kan word.

In 1866 het Haeckel Generelle Mophologie der Organismen (Algemene Morfologie van Organismes) gepubliseer, en dit in 1868 opgevolg met Natürliche Schöpfungsgeschichte (Natuurlike Geskiedenis van die Skepping), wat tot 1889 verdere uitgawes beleef het. Die tekeninge in hierdie boek kan beskou word as voorgangers van dié in Fig. 1. Dit het illustrasies bevat van bevrugte ova van die mens, aap en hond en ook illustrasies van vroeë embrios, nog in die sogenaamde “sandaalstadium”, van die mens, hoender en skilpad. In nie een van die illustrasies was daar ‘n merkbare verskil tussen die verskillende spesies se ova of embrios nie.

Die probleem was egter dat Haeckel dieselfde houtsnee drie keer gebruik het om die verskillende ova af te beeld en dieselfde prosedure gevolg het met die afbeeldings van die ‘sandaal’-embrios. Die (heeltemal korrekte) punt wat hy wou maak was dat daar op die betrokke stadia van ontwikkeling geen merkbare verskil is tussen die ova en embrios van die verskillende organismes nie.

Ludwig Rütimeyer was die eerste om hierdie misstap raak te sien maar nie die enigste om Haeckel hieroor aan te val nie. Haeckel het sy fout besef, in die openbaar erken en in daaropvolgende uitgawes van sy boek het hy elke keer net een illustrasie elk van ‘n ovum en sandaal-embrio gebruik en verduidelik dat dit dieselfde voorkoms het by die betrokke spesies.

Haeckel se sketse van embrios kom ietwat skematies voor, soos Robert Richards, bekende historikus van die natuurwetenskappe, tereg opmerk. Daar is twee redes daarvoor: ten eerste was die sketse gemaak vir groot muurkaarte wat Haeckel vir sy openbare lesings gebruik het. Te veel detail sou geen praktiese nut gehad het nie, aangesien die lesings op die algemene publiek gerig was en nie vir kundiges bedoel was nie. Ten tweede het Haeckel nie werklike embrios voor hom gehad toe hy die sketse gemaak het nie. Sowel Rütimeyer as Wilhelm His, ‘n beroemde embrioloog, het beweer dat Haeckel tekeninge deur Theodor Bischoff en Alexander Ecker gebruik het. In latere weergawes het Haeckel duidelik aangetoon dat hy van ander skrywers se publikasies gebruik gemaak het.

Dit was destyds ‘n redelik algemene gewoonte om illustrasies uit ander skrywers se boeke te gebruik. Die beroemde Duitse bioloog Albert von Kölliker het in sy boek oor embriologie dieselfde illustrasie deur Bischoff gebruik wat in Haeckel se boek aangetref word, sowel as ‘n tekening deur die Britse anatoom Allen Thomson. Anders as Haeckel het hy sy bronne aangedui. Mens moet egter in gedagte hou dat Haeckel se Natürliche Schöpfungsgeschichte die lewe begin het as ‘n reeks openbare lesings waar die klem gelê was op die ooreenstemmings in morfologie van die embrios eerder as op die oorsprong van die afbeeldings en dat dit onwaarskynlik is dat Haeckel, toe hy binne ‘n kort tyd die notas van sy openbare lesings moes redigeer om dit in boekvorm te laat uitgee, veel aandag geskenk het aan gedetailleerde verwysings.

In sy Anthropogenie van 1874 het Haeckel die embrio-sketse uitgebrei tot dít wat in Fig. 1 te sien is, sowel as ander sketse wat nie hier afgebeeld word nie. Erkenning is verleen aan ander wetenskaplikes wie se sketse deur Haeckel gebruik is en dit is ook belangrik om op sy voetnoot te let: “Die menslike embrios (by die derde, vyfde en tiende weke)…is geteken van goed gepreserveerde voorbeelde wat in wynspiritus bewaar is. Meeste illustrasies van menslike embrios in die eerste maand is geteken van monsters wat in ‘n swak toestand verkeer het of defektief was.”

Die feit is doodeenvoudig dat Haeckel grotendeels korrek was: as mens die grootte van die betrokke embrios buite rekening laat dan stem die morfologie van vertebrate by die aangeduide stadiums inderdaad baie ooreen. Hierdie feit is nooit deur Haeckel se teenstanders ontken nie – hul besware was dat die tekeninge ietwat verwronge was en verder ook nie kan dien as bewys van sy biogenetiese wet nie maar bloot ter illustrasie daarvan gebruik kan word. Hierdie argumente was in die kol en dit was taamlik skadelik vir Haeckel se reputasie.

His, ‘n embrioloog en formidabele teenstander van Haeckel, het in sy Unsere Körperform und das physiologische Problem ihrer Entstehung, 1874 (Ons Liggaamsvorm en die Fisiologiese Probleem van sy Ontstaan) ‘n hele hoofstuk aan Haeckel se teorie en illustrasies gewy. Hy was beswaard oor die toetrede van die evolusieteorie tot embriologie, ‘n vakgebied wat His (geen evolusionis nie) jaloers bewaak het teen alle gewaande of werklike betredings deur wetenskaplikes wat nie embrioloë was nie. Meeste van His se besware was wetenskaplik van aard en gaan nie bespreek word nie – daar sal slegs gekyk word na die beskuldigings van vervalsing.

His het tot die gevolgtrekking gekom dat Haeckel in sy sketse die voorkop van Bischoff se afbeelding van ‘n hond-embrio met 3,5 mm verleng het, dat die voorkop van Ecker se mens-embrio met 2 mm verkort is en ook dat die lengte van die mens-embrio se stert verdubbel is.

Hierdie beswaar het egter ‘n belangrike oorweging buite rekening gelaat: Haeckel het sy lesers spesifiek gewaarsku dat hy sommige embrios as geheel proporsioneel groter of kleiner gaan skets om morfologiese vergelykings te vergemaklik. Die interne verhoudings van elke illustrasie was korrek, al het die groottes van die embrios onderling verskil.

His het ook beswaar gemaak teen twee afbeeldings van menslike embrios wat elk ‘n allantoïs besit het en verklaar dat menslike embrios nie so ‘n struktuur toon nie. In hierdie geval was His egter heeltemal verkeerd omdat die Duitse anatoom Wilhelm Krause die allantoïs as ‘n duidelik sigbare orgaan in menslike embrios beskryf het, ‘n waarneming wat deur ander embrioloë bevestig is. His het Haeckel die nekslag probeer toedien deur ‘n reeks gedetailleerde sketse van embrios van verskillende organismes te publiseer, gebaseer op metings wat hy self gemaak het, en by te voeg dat die embrios nie identies is nie. His maak hom hier skuldig aan ‘n strooipopargument, aangesien Haeckel nooit beweer het dat die embrios identies is nie, bloot dat hulle baie eenders is. Hierdie beskuldigings is in 1891 herhaal deur die bioloog Victor Hensen, wat gekrenk was deur Haeckel se fel kritiek op sy navorsingsekspedisie. Haeckel se breedvoerige respons tot Hensen was ook op ander kritici gemik. Meeste van die illustrasies in Anthropogenie is van ander bioloë ontleen, het hy geskryf, maar sodanige praktyk was algemeen en hy het die illustrasies dan ook as sulks aangedui. Voorts was meeste van die tekeninge nie eksakte lewensgetroue afbeeldings nie, maar diagrammaties van aard, skematiese weergawes wat die essensiële kenmerke van die embrios versinnebeeld het. Voorts, en dit is ‘n belangrike punt, is alle soortgelyke tekeninge wat in algemene handboeke te sien is en wat vir onderrig bedoel is “uitvindings” (Haeckel gebruik die woord erfunden) – daarmee het hy bedoel dat die illustrasie as ‘n argetipe gesien moet word en gebruik moet word om die idee te illustreer wat die navorser aan sy gehoor wil oordra. Hy was nie die enigste een wat sodanige diagrammatise sketse gebruik het nie – von Baer, Müller, Gegenbaur en Huxley het dit almal gedoen.

Tot sover dan kritiek uit die negentiende eeu. In die twintigste eeu kry die hele debakel weer nuwe lewe toe die embrioloog Michael Richardson, wat nie met Richards (sien later) verwar moet word nie, Haeckel se illustrasies vergelyk met foto’s van embrios van dieselfde organismes en die resultaat in 1997 in die bekende wetenskap-joernaal Science publiseer. Sy gevolgtrekking, onder die opskrif “Haeckel’s Embryos: Fraud Rediscovered”, was dat Haeckel se tekeninge verkeerd was en hy het bygevoeg: “It looks like it’s turning out to be one of the most famous fakes in biology.”

Die pers kon heel verstaanbaar nie so ‘n sappige brokkie laat verbygaan nie en nuus oor die ‘vervalsings’ is wyd gepubliseer. Vir kreasioniste was hierdie soos manna uit die hemel. Hul propaganda was inderdaad baie effektief - Richardson se artikel is aan die groot klok gehang, ‘n aansienlike hoeveelheid borduursel is bygevoeg en talle mense dink steeds dat Haeckel ‘n vervalser was of selfs dat hy tronkstraf moes uitdien.

‘n Besonder interessante deel van Richardson se oorspronklike artikel word egter byna nooit genoem nie, moontlik omdat dit nie die kreasionistiese saak pas nie: Richardson bespreek nie net Haeckel se embrio-sketse nie, maar ook die van His, sommige waarvan in Fig. 4 afgebeeld word.

Fig. 4



Richardson het dit duidelik gestel dat His ook die ooreenkomste tussen die embrios oorbeklemtoon en die verskille ignoreer het. Een van sy temas was trouens dat Haeckel se interpretasie nie juis veel anders was as sy tydgenote nie! His se sketse verskil nie veel van Haeckel se weergawes nie.

Mens moet natuurlik vra of dit hoegenaamd regverdig is om sketse wat dateer uit die tweede helfte van die negentiende eeu, gemaak met mikroskope wat destyds beskikbaar was, te vergelyk met afbeeldings wat meer as ‘n eeu later gemaak is met gespesialiseerde fotografiese apparaat en mikroskope waarvan Haeckel nie eers kon droom nie. Volgens sulke logika moet His en ander embrioloë wat tydgenote van Haeckel was, ook as vervalsers beskou word. Die pers het sake vererger deur Haeckel se afbeeldings, gemaak met apparatuur wat meer as ‘n eeu oud is, doodeenvoudig te jukstaponeer met Richardson se foto’s wat met moderne mikroskope en kameras geneem is en die noodwendige verskille as vervalsings te bestempel.

Dit was egter nie die enigste haakplek in Richardson se argument nie. Die foto’s van vis-, salmander- en mens-embrios wat hy in Science gepubliseer het, het steeds hul dooiersakke bevat, soos gesien kan word in Fig. 5.

Fig. 5



Haeckel het sy embrios sonder dooiersakke geteken, soos in die boonste ry gesien kan word. Die onderste ry bevat foto’s van embrios van die salmander, vis en mens met dooiersakke. Hordes onkundige of oneerlike kreasioniste wat nie besef het dat sommige embrios met en ander sonder dooiersakke uitgebeeld is nie, het hierdie afbeeldings in publikasies of op webwerwe ten toon gestel, vergesel van uitgelate kraaigeluide oor Haeckel se oneerlikheid en hoe dit evolusie as onwaar bewys. Daar is ook nog ander besware wat teen Richardson se afbeeldings geopper kan word. Die hoender-embrio in Richardson se foto is anders georiënteer as Haeckel se skets – dit is opgekrul en nie effens ‘oopgerek’ soos Haeckel se skets nie. Haeckel het sy embrios almal tot ‘n mate ‘ontkrul’ om die ventrale anatomie beter ten toon te stel, en die opgekrulde posisie van die hoender-embrio het vanselfsprekend net verder tot die verwarring bygedra. Die salmander-embrio is ook proporsioneel groter afgebeeld as die ander embrios, wat die waters net verder vertroebel het. ‘n Versweë aanname wat in feitlik alle besprekings van Richardson se artikel aangetref word, is dat sy foto’s vanself spreek, ‘n soort van embriologiese res ipsa loquitur. Dit is egter alles behalwe die geval, soos Robert Richards aantoon in ‘n artikel in Biology and Philosophy in 2008.

Richardson kon sy materiaal sodanig georden het dat vergelykings met Haeckel se sketse meer toepaslik sou wees deur die dooiersakke te verwyder, die grootte van die salmander-embrio te verminder en die hoender-embrio ‘ oop’ te buig. Al bogenoemde is sommer kinderspeletjies met hedendaagse rekenaartegnologie en wanneer die twee groepe afbeeldings sodanig gemanipuleer word, dan is die verskille tussen Haeckel se embrios en dié van Richardson meteens nie meer so opvallend nie, soos mens in Fig. 6 kan sien. Haeckel se afbeeldings is in die onderste ry van die figuur en Richardson se foto’s in die boonste ry.

Mens moet wonder waarom Richardson nie besef het dat dit die geval is nie, des te meer aangesien hy glad nie as ‘n kreasionis bestempel kan word nie. Dit is egter ‘n algemene en eienaardige verskynsel dat eietydse wetenskaplikes dit so nou en dan uit die oog verloor dat hul negentiende-eeuse voorgangers nie toegang gehad het tot dieselfde tegnologie en kennis wat so vrylik in die twintigste eeu beskikbaar is nie.

Fig. 6



‘n Kykie na ‘n skets van die kop van ‘n vier-week oue mens-embrio (Fig. 7), soos te sien in Gray’s Anatomy, toon dat sowel Haeckel as His se sketse taamlik akkuraat was.

Fig. 7



Epistemologies gesproke is His en Haeckel dus in dieselfde bootjie: hulle het individuele monsters gebruik om, met behulp van jarelange ondervinding en diep insig, afbeeldings van standaard organismes daar te stel om hul teorieë te bevestig of te ondersteun. Soos Richards tereg opmerk, alhoewel hedendaagse teksboeke talle foto’s van embrios of ander biologiese monsters bevat, is daar ook lyntekeninge wat tipiese organismes voorstel omdat foto’s nie altyd reg laat geskied aan die idee wat oorgedra moet word nie.

Dit is insiggewend om daarop te let dat Richardson sy opinie sedertdien aansienlik gewysig het. In ‘n brief deur homself en ses medewerkers aan Science skryf hy: “A recent study co-authored by several of us and discussed by Elizabeth Pennisi (Research News, 5 Sept. 1997 p1435) examined inaccuracies in embryo drawings published last century by Ernst Haeckel. Our work has been used in a nationally televised debate to attack evolutionary theory, and to suggest that evolution cannot explain embryology. We strongly disagree with this viewpoint. Data from embryology are fully consistent with Darwinian evolution. Haeckel’s famous drawings are a Creationist cause célèbre. Early versions show young embryos looking virtually identical in different vertebrate species. On a fundamental level, Haeckel was correct: All vertebrates develop a similar body plan (consisting of notochord, body segments, pharyngeal pouches, and so forth). This shared developmental program reflects shared evolutionary history. It also fits with overwhelming recent evidence that development in different animals is controlled by common genetic mechanisms. Unfortunately Haeckel was overzealous.” (Richardson M. et al., 1998, Science 280, 983.) Saam met Gerhard Keuck skryf hy: “In addition to many examples cited by Gould (1977), parallels between ontogeny and phylogeny have recently been studied at the biochemical level (Altesor, Ezcurra & Silva, 1992; Boyer et al., 1993; Irvine and Seyfried, 1994; Burnstock, 1996;Hoshita, 1996; Ozernyuk et al., 1993), at the behavioural level (Rial et al., 1993; Baum, 1996) and even in the context of cancer (Johnston, Pai & Pai, 1992). A number of workers discuss the Biogenetic Law in terms of developmental genetics (Delsol & Flatin, 1992; Ohno, 1995; Theissen and Saedler, 1995). Recent work has identified numerous transformations consistent with the Biogenetic Law (Table 1). These apparent recapitulations all relate to single character transformations and not to entire stages (although see Miyazaki & Mickevich, 1982, where whole suites of characters show recapitulation).” (Richardson M. and Keuck G. 2002, Biol. Rev., 77, 502)

Dat Haeckel se gebruik van die houtsneë ‘n oordeelsfout was kan nie ontken word nie, maar gesien die relatiewe haas van voorbereiding van die boek waarin die illustrasies te sien is, kan dit beslis nie as doelbewuste vervalsing beskou word nie. His en sy bondgenote se beskuldigings het Haeckel beslis ontstel, maar hy is definitief nie deur sy tydgenote as ‘n vervalser beskou nie. Trouens, sy eweknieë het sy navorsing baie hoog aangeslaan, soos gesien kan word aan die aantal eregrade wat aan hom toegeken is: Edinburgh (1884), Cambridge (1898), Uppsala (1907) en Geneve (1909), sowel as toekennings deur wetenskaplike verenigings: die Natural and Medical Society van Amsterdam (1890), die Linnaean Society van Londen ((1894), die Royal Society van Engeland (1899) en die Akademie van Wetenskap van Turyn (1900).

Die onlangse beskuldigings is, danksy vakkundige navorsing oor die geskiedkundige aspekte van die embrios, reeds ter ruste gelê (veral deur Robert J. Richards in sy uitstekende biografie van Haeckel, The Tragic Sense of Life) en Haeckel het nou sy regmatige plek in die geskiedenis van die natuurwetenskappe ingeneem. Die enigste plekke waar daar nog ‘n desperate gekekkel oor die gewaande vervalsings te vinde is, is kreasionistiese publikasies of webwerwe, maar gesien die armoede van fundamentalistiese denke is dit seker te verstane. Aangesien moderne embriologiese kennis nie bestaan uit negentiende-eeuse sketse nie, moet mens wonder waarom kreasioniste in elk geval so ‘n bohaai maak oor die hele affêre, so al asof hulle hoop om die evolusieteorie ‘n knou toe te dien deur hul eie vervalsde weergawe op te dis van sketse wat meer as ‘n eeu gelede al ‘n bewys die evolusieteorie gelewer het.

Gesels HIER saam

<< Terug
 
Die dag toe God weggeraak het....
Nuwe fossiel laat kreasioniste met eier in die gesig
Eugene Terreblanche vermoor
Bybelse potholes
Ek word bang
NG Kerk se moderatuur sê Kletskerk is 'n verleentheid
NG Kerk wil saambly weer bekyk
Is wetenskaplike studie sonde?
Ateïstiese dominee glo in 'n "God wat nie bestaan"
KLETSKERK VIR BEGINNERS


Skryf in op ons nuusbrief.
Name:
Email:
Laai AF
Kletskerk

Bemark jou Blad ook
klasifiseerd
Kontak
South Africa's Top Sites


Powered by phpBB © 2000, 2002, 2005, 2007 phpBB Group
Style edited by Lee for phpBB3