Tuisblad   Wie is ons?   Argief   Soek Artikels   Beknopte Index   Registreer  Hulpstaaf   Foto's  
Login   Register    FAQ    Search
It is currently Fri Sep 10, 2010 7:44 pm

All times are UTC + 2 hours




Post new topic Reply to topic  [ 1 post ] 
Author Message
 Post subject: Bartlett en Potgieteter se standpunt oor gay besluit
PostPosted: Fri Jun 15, 2007 9:07 am 
Offline
Site Admin
User avatar

Joined: Thu Oct 27, 2005 2:27 pm
Posts: 13289
Location: Weskaap
Image

André Bartlett en Jorrie Potgieter wat albei medevoorsitters was van die NG Kerk se taakgroep oor homoseksualiteit se vertolking van die sinodebesluit oor homoseksualiteit verskil soos dag by nag. Ek het met albei van hulle gesels om te hoor hoe vertolk hulle die besluit. Hier onder is ses vrae wat ek aan elkeen gestel het om uit te vind wat is hulle reaksie op die besluit. Uit hulle antwoorde is dit duidelik dat hulle net soos op die foto wat ons tydens die sinode van hulle geneem het soos oos en wes van mekaar verskil.


1. Hoe voel jy dat jou deel van die taakspan se verslag nie deur die sinode aanvaar is nie en wat is jou kommentaar op die uiteindelike besluit?
JP: Ek is bly oor die sinodebesluit en na my mening weerspieël die besluit die kern van ons aanbevelings: In die eerste plek gaan dit nie om uitsluiting nie, maar om riglyne vir die lewe. In die tweede plek het ons gevra dat die sinode ‘n duidelike beleidstandpunt inneem en dit het die sinode gedoen. In die derde plek het ons die sinode gevra om te besluit dat homoseksuele lewensverbintenisse en/of –huwelike teen die leer van die Skrif is (die implikasie hiervan is dus duidelik: ook alle homoseksuele verhoudinge), dit het die sinode ook gedoen.

AB: Ek is tevrede dat die Algemene Sinode die beste besluit geneem het wat onder die omstandighede moontlik was.

2. Stem jy saam dat die besluit verskillend vertolk kan word deur verskillende mense en hoe voel jy daaroor? Kan Aasvoëlkop se kerkraad byvoorbeeld vaste verhoudings tussen mense van dieselfde geslag goedkeur terwyl Lynnwoodrif se kerkraad dit kan afkeur?
JP: Ek kan nie sien hoe die besluit verskillend vertolk kan word nie. Dit sal ‘n ongeldige vertolking wees om persone wat seks buite die huwelik het, in die ampte te bevestig. Daar is nêrens deur die sinode besluit dat iemand wat in enige verhouding buite die huwelik leef in die ampte kan dien nie – ek lees dit nie daar nie.

AB: Die verskille waaroor daar diskresie aan kerkrade verleen is, is duidelik uiteengesit in die gesamentlike verslag van die taakspan. Die volgende sake word daar genoem:
• Die vertolking van die Skrif oor homoseksualiteit.
• Die aanvaarbaarheid van vaste verhoudings tussen persone van dieselfde geslag.
• Die voorwaardes waaronder gay persone tot die besondere ampte toegelaat behoort te word. (Die Algemene Sinode het in die verband slegs uitspraak gelewer oor die posisie van gelegitimeerdes – dws predikante en aspirant-predikante).
• Die oogmerk van pastorale versorging.

Die diskresie wat aan kerkrade verleen is, beteken dat die kerkraad van gemeente A kan oordeel:
• Dat alle homoseksuele praktyke deur die Skrif afgewys word,
• Dat alle verhoudings tussen persone van dieselfde geslag onaanvaarbaar is, en
• Dat persone wat in sulke verhoudings betrokke is, nie as ouderlinge en diakens kan dien nie.

Met ewe veel reg sou die kerkraad van gemeente B kan oordeel:
• Dat die Bybel slegs sekere destruktiewe vorme van seksuele gedrag afkeur sonder om ‘n uitspraak te lewer oor homoseksualiteit as sodanig,
• Dat vaste verhoudings tussen persone van dieselfde geslag aanvaarbaar is as dit gerig is op ‘n vaste verbintenis van liefde en trou, en
• Dat persone wat in sulke verhoudings betrokke is, wel as ouderlinge en diakens kan dien.
Dat die kompromis so verstaan moet word, is voor die besluit deur die Algemene Sinode geneem is, aan my en dr Jorrie Potgieter in mekaar se teenwoordigheid verduidelik en ons het op grond van die verduideliking ingestem tot die voorstel.

3. Wat sal jou aanbeveling en motivering hieroor aan jou eie kerkraad wees en sal jy hulle besluit daaroor aanvaar ongeag wat hulle besluit?
JP: Alle mense ongeag wie hulle is, is in Lynnwoodrif welkom. Hier by ons is Christus alles en in almal, daarom maak dit nie saak of iemand heteroseksueel of homoseksueel is nie. Ons droom is om van almal Jesusmense te maak.

AB: Die saak sal in meeste gemeentes (insluitend my eie gemeente) eers werklik ter sprake kom wanneer ‘n gay persoon in ‘n vaste verhouding vir verkiesing tot die kerkraad oorweeg word. My aanbeveling sal berus op die kwaliteite van die betrokke persoon en die integriteit van sy/haar lewenstyl.

4. Ondersteun almal in jou deel van die taakgroep die besluit om in te koop in die voorstel wat aanvaar is en verstaan julle dit eenders?
JP: Ek kan nie namens die ander persone praat nie. Ek weet wel dat hulle die voorstel as geheel steun, wat beteken dat kerkrade se diskresie (punt 8 ) slegs toegepas kan word in terme van die riglyne van punte 1-7. Nie net hulle nie, maar so het die sinode die besluit amptelik vertolk op die laaste dag. Punte 1-7 is maw die “beleid” waarvolgens die kerkrade die diversiteit moet hanteer. Dis tog baie duidelik.

AB: Ja.

5. Is dit billik dat daar nou 'n onderskeid getref word tussen predikante en ander ampsdraers om selibaat te wees? Alle ampte is tog gelyk, waarom word daar 'n onderskeid getref tussen predikante, ouderlinge en diakens.
JP: Nee, dit is onbillik. Volgens my verstaan van die ampte kan daardie dualisme nie gemaak word nie. Dit is vreemd aan die gereformeerde kerkreg. Die sinode het dan júís op die laaste dag van die vergadering ‘n besluit oor die gelykwaardigheid van al drie die ampte geneem. Dit is die rede waarom ek dit nie kan verstaan dat iemand sou kon beweer dat persone wat in ‘n homoseksuele verhouding leef (wat deur die sinode as teen die leer van die Skrif af gewys is) in die ampte sou kon dien nie. Ek dink hierdie persone vat ‘n vet kans.
Dit maak ‘n bespotting van seks buite die huwelik en die gelykwaardigheid van die ampte. Hoe kan ‘n regerende ouderling wat oor die lerende ouderling (predikant) moet toesig hou, ‘n seksuele verhouding buite die huwelik hê, terwyl die predikant selibaat moet leef? Dit maak nie sin nie.


AB: Die Algemene Sinode het in 1986 ‘n soortgelyke onderskeid gemaak toe vroue tot die diakenamp toegelaat is, maar nie tot die ampte van ouderling en predikant nie. In die huidige geval moet dit as deel van ‘n kompromis verstaan word, waar elke groep ter wille van die kompromis iets van sy eie posisie prysgee.

6. Die besluit wat aanvaar is, is sekerlik nie die laaste woord nie. Wat sal jy volgende wil sien gebeur ten opsigte van die kerk se standpunt oor homoseksualiteit.
JP: Ek het my werk as mede-voorsitter van die Taakspan Homoseksualiteit gedoen. Wat in die toekoms gebeur is nie in my hande nie.

AB: Dat daar nou rustigheid kom en dat elke kerkraad die saak op sy eie tyd en in die lig van eie omstandighede hanteer.


Top
 Profile  
 
Display posts from previous:  Sort by  
Post new topic Reply to topic  [ 1 post ] 

All times are UTC + 2 hours


Who is online

Users browsing this forum: No registered users and 1 guest


You cannot post new topics in this forum
You cannot reply to topics in this forum
You cannot edit your posts in this forum
You cannot delete your posts in this forum
You cannot post attachments in this forum

Search for:
Jump to:  




South Africa's Top Sites Powered by phpBB © 2000, 2002, 2005, 2007 phpBB Group
Style edited by LEE for phpBB3